Dié keer was dit senior blanke studente wat ontgroen word as deel van Kovsies se koshuisintegrasieprogram, en wat as Huiskomiteelede in ‘n tradisionele swart koshuis, Villa Bravado, opgeneem is.
Kovsies, wat lank reeds van die video geweet het, se aanvanklike reaksie was dat dit nie rassisties was nie omdat die ontgroeners self dieselfde ontgroening deurgemaak het. Boonop is die primarius van sy amp onthef, en word ‘n ondersoek na die optrede van die koshuisvader gedoen.
Op Kovsies wag nou die uitdaging om oortuigend te bewys dat nie-rassigheid nie beteken dat een ras meer gelyk as ‘n ander is nie.
Dié kwessie word bemoeilik deur die aanwesigheid van erge paternalisme en selfs negrofilisme in die Reitz-sage, in der mate dat die subjektiewe rasbewuste rubriekskrywer van Die Burger, Zelda Jongbloed, na afloop van die hofsaak onder meer geskryf het die skoonmakers was onbewus van die video wat gemaak is. Dit is verstommend dat Die Burger ‘n rubriek met sulke growwe feitefoute sou kon plaas – veral in die lig van die emosies rondom die raskwessie wat dit noodwendig sou veroorsaak. Dit het ook, gegewe die storm wat gister op verskeie webwerwe hieroor losgebars het.
Op die rektor, prof. Jonathan Jansen, wag nou ‘n moeilike tydjie om logies – regverdig op te tree. Hy het die Reitz-turksvy buite die howe, tot sy eie voordeel probeer rangeer. Hy het selfs Malema se hulp ingeroep oor die saak. Hiervoor het die Nederlandse Christelike koerant, Trouw, in ‘n ellelange artikel hom as die nuwe Suid-Afrikaanse ikoon van versoening beskryf.
Ongelukkig kom dit voor asof die Bloemfonteinse kantoor van die Menseregtekommissie die vlieg in die versoeningsalf is. Nou is die uitdaging dat dié kantoor ook ‘n bereidwilligheid tot konsekwentheid sal openbaar. Gegewe die geskiedenis van hierdie kantoor, soos die bykanse dekadelange gesloer oor die Vrystaatse nommerplaatkwessie en ander klagtes waar die verklaagdes swart is, is die uitdaging veral groot.
Die nommerplaatkwessie strek die Mensregtekommissie werklik nie tot eer nie. Pansat het reeds in 1998 beslis dat VS as alternatief vir FS op Vrystaatse nommerplate gebruik mag word. Die destydse LUR van Vervoer het dit op sogenaamde appèl na die menseregtekommissie geneem wat dit weer met ‘n verwysingsnommer na die Bloemfonteinse kantoor verwys het. Nou, meer as ‘n dekade, verskeie mediaberigte oor die gesloeredery en eise van politieke partye dat iets gebeur later is daar steeds ‘n doodstille swye aan die kant van die kantoor.
Nog ‘n bedenklike geval is waar die kommissie aangedui het dat hy die verklaagde nie kan opspoor nie, en daarom nie vordering kon maak nie. Dit het ‘n joernalis van Volksblad ongeveer tien minute geneem om die persoon, die voorsitter van die Vrystaatse Pleknamekomitee, op te spoor en ‘n telefoniese onderhoud te voer.
In die geval van die Reitz-vier het die kommissie baie laat betrokke geraak, maar toe dit eers wakkergeskrik het, is die saak met ‘n vasberadenheid tot vergelding gedryf wat nou ‘n groot las op gebalanseerdeheid plaas, noudat die Villa Bravado-video se bestaan aan die lig gekom het.
Vir Suid-Afrika om enige hoop te hê om as eenheidstaat te slaag, is dit gebiedend noodsaaklik dat die kommissie duidelik toon dat een rassegroep nie meer gelyk as ‘n ander is nie.
