Volgens FIFA het Suid-Afrika sy aanbieding van die Wêreldbekersokkertoernooi summa cum laude geslaag met ‘n byna perfekte nege uit 10 vir die land se pogings.
Maar nou sukkel sommige Suid-Afrikaners glo met die vraag: “Hoe kry ek my lewe terug?”
“Die Wêreldbeker-toernooi het ‘n fantastiese, natuurlike impak op die gemoed tot gevolg gehad,” meen Helgo Schomer, ‘n sielkundige in Kaapstad.
“Nou moet ons iets kry om dit te vervang. Want na slegs 31 dae en ‘n paar wedstryde was die Suid-Afrikaners verslaaf aan hierdie euforie.” Volgens Schomer is hierdie tipe verskynsel uiters skaars.
Suid-Afrika het die kans aangegryp om die wêreld te verwelkom as ‘n oënskynlike swart land, alhoewel die bestuur van FIFA, wat die toernooi gereël het, nie swart is nie.
“Ons is sosiale diere. Ons moet erken dat hierdie ervaring nie met enigiets anders vervang kan word nie,” het hy gesê.
“Die Wêreldbeker het gehelp dat ons van al ons alledaagse probleme vergeet vir ‘n oomblik.”
Volgens Charl Davids, van die sielkunde departement aan die Universiteit van die Wes-Kaap, sal mense nou ietwat depressief voel omdat alles na normaal terugkeer.
Suid-Afrika het jare lank reeds uitgesien na een van die grootste sportbyeenkomste in die wêreld en nou is dit skielik verby.
“Hierdie is normaal ná so ‘n groot byeenkoms,” het Davids gesê.
Suid-Afrikaners word aangemoedig om die gees, wat tydens die toernooi geheers het, te laat voortleef.
“Dit gaan ‘n tydjie neem, maar ons sal gou weer begin beter voel,” het Schomer gesê.
