Ali Akbar Salehi, hoof van Iranse atoomenergie-agentskap, het Woensdag gesê Teheran het meer as 17 kg 20% verrykte uraan vervaardig. Die verryking van wapengraadkernmateriaal is ‘n sensitiewe aangeleentheid wat wêreldmoondhede probeer beperk.
“Ons het sover meer as 17 kg 20% verrykte uraan vervaardig en ons kan waarskynlik vyf kilogram per maand vervaardig,” het Salehi aan die ISNA-nuusagentskap gesê.
Wêreldmoondhede gelei deur Washington wil hê Iran moet uraanverryking opskort. Hulle glo dit is slegs ‘n rookskerm vir die vervaardiging van kernwapens.
Verrykte uraan kan as brandstof vir kernreaktors gebruik word, sowel as om die plofbare gedeelte van ‘n atoombom te vervaardig.
Iran het in Februarie op bevel van pres. Mahmoud Ahmadinejad begin om 20% verrykte uraan te vervaardig.
