Pres. Barack Obama van die VSA het sy top-bevelvoerder in Afganistan Woensdag afgedank oor sy omstrede uitlatings wat die Withuis woedend gelaat het en daartoe gelei het dat die oorlog in Afganistan bevraagteken word.
Obama het genl. Stanley McChrystal ná ’n vergadering van 30 minute van sy pligte onthef en dit beskryf as “die regte ding om te doen vir ons missie in Afganistan”.
Obama het genl. David Petraeus, hoof van die Amerikaanse sentrale bevelstruktuur, in sy plek aangestel.
Obama het McChrystal na die Withuis ontbied om sy uitlatings aan die Rolling Stone – wat die Amerikaanse president verkleineer en ander senior burgerlike leiers in die verleentheid gestel het – te verduidelik .
McChrystal (55) het om verskoning gevra en gesê sy oordeel was swak.
