Die uitvoerende hoof van BP, Tony Hayward, het hom op die nippertjie aan ‘n oliekonferensie onttrek en sê hy gaan eerder konsentreer op die skoonmaakoperasie in die Golf van Mexiko.
Hayward sou Dinsdag saam met ander oliebase optree as ‘n spreker by ‘n oliekonferensie in Londen.
‘n BP-woordvoerder het aan AFP gesê dat Hayward hom aan die geleentheid onttrek het “weens verpligtinge teenoor die Golf van Mexiko”.
Hy sal by die oliekonferensie deur sy groephoof van personeel, Steve Westwell, vervang word.
Hayward het onder fel kritiek deurgeloop in die VSA ná hy Saterdag te midde die olieramp in die Golf van Mexiko ‘n seiljagvaartuitstappie geneem het.
BP is ook gekritiseer vir die pas waarteen hy op dié ramp reageer.
