So vra ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese party (CDP) en waarnemende voorsitter van die Christen-Demokratiese Alliansie (CDA) na aanleiding van die onthullings dat die ministerie verantwoordelik vir plaaslike regering, die kontrak van mnr. Kenny Leluma as waarnemende munisipale bestuurder vir die Dr. Kenneth Kaunda-munisipaliteit by Ventersdorp verleng het.
“Terwyl Ventersdorp nou sal voortgaan om finansieel dood te bloei deur minister Sicelo Shiceka se onbereidwilligheid om in te gryp en ‘n persoon wat reeds bewys het dat hy nie die pyp kan rook nie, te verwyder, bou die minister self ‘n reputasie op wat die wenkbroue laat lig. Hy was pas in die nuus oor sy CV onakkuraathede bevat het, en kort daarvoor toe dit geblyk het sy eie munisipale rekening in Midrand was beduidend in die rooi.
“Die ergste van alles is egter dat hy met erge dreigemente teenoor belastingbetalersverenigings vorendag gekom het, en die skuld vir munisipaliteite se leë geldkaste op dié verenigings gepak het. In werklikheid is daardie geld veilig in trustfondse en wanneer dit aangewend word, is dit om dienste te lewer wat munisipaliteite versuim om te lewer. Met die Shiceka-opsie word groot bedrae geld aangewend sonder enige sigbare teken van beterskap, met duidelik ook geen vooruitsig vir beterskap solank die opsie uitgeoefen word nie.
“Dit gebeur by herhaling, net te veel om enige beloftes van skoon administrasie met enige greintjie geloofwaardigheid te laat. In enige ander demokratiese land sou die minister in die lig van enige van bogenoemde onthullings sy tassies gepak en geloop het. Ons sal egter ons asem mors om hom te vra om te loop.”
