ANC-minister dreig met grondonteiening

Image

Lulu Xingwana, min. van grondsake

Die ANC-minister van grondsake, Lulu Xingwana, het gister gedreig dat haar regering plase gaan onteien van boere wat “die regte van werkers skend”. Die konteks van haar uitlating was ‘n vergadering van die Voedsel en Verwante Werkersunie se nasionale konferensie in Randburg waar sy deur ‘n skare van 200 met rooi T-hemde toegejuig is.

Xingwana het gesê dat “die regering die reg het om diegene wat nie die wet (oor verblyfreg op plase) eerbiedig nie te onteien. Ek voel persoonlik dat te veel plaaswerkers hulself onder die sweep van mishandeling deur gewetenlose boere bevind.”

Haar aanval op boere volg kort op die hakke van ‘n soortgelyke uitspraak deur die adjunk-minister van grondsake, Dirk du Toit, in die parlement op Woensdag. By die pas afgelope kongres van TLU-SA, die landbou-unie, is gevoel dat Du Toit se stellings bereken is om saam te val met die landboukongres waar “Volhoubare landbou binne die Afrikarealiteit” die tema was.

Xingwana het beweer dat agt miljoen werkers van plase afgesit is van 1985 tot 2005 en dat slegs een persent van sulke uitsettings wettig was. Hierteenoor het mnr. Lourie Bosman van Agri-SA gesê dat daar sedert die begin van die jaar nog geen geval van onwettige uitsetting in die land aangemeld is nie. In terme van ‘n ooreenkoms tussen boere en die departement van grondsake, bestaan daar ‘n gesamentlike komitee om sulke gevalle te ondersoek. Sedert 1 Januarie 2007 is daar egter nog geen geval van onwettige uitsetting op ‘n plaas aangemeld nie.

Volgens Xingwana het die ANC nie met onteiening begin nie, maar het die vorige regering himself reeds sedert 1936 skuldig gemaak aan wat sy noem “skop-skiet-en-donder-onteienings”.

“Ek glo dat ons almal bewus is van die probleme op plase en dat hulle vra om dringende en besliste ingryping deur alle strategiese vennote,” het sy voortgegaan. “Ons moet beklemtoon dat plaaswerkers ook mense is en menswaardige behandeling verdien.”

Xingwana het gesê dat die debat en die behoefte om verblyfregkwessies aggressief ter hersien gedurende die Grondberaad in 2005 beklemtoon is. By die beraad is ‘n oproep gedoen om ‘n moratorium op alle uitsettings te plaas en om die huidige wetlike bestel te wysig.

Dit het die departement van grondsake genoop om drie studies aan te vra waarin bepaal sou word hoeveel mense op plase woon, hoe die wetgewing hersien behoort te word, asook die moratorium op alle uitsettings.

Die eerste studie het getoon dat daar 3 miljoen mense op plase woon. Die studies is intussen voltooi en sal deur die departement vrygestel word op Maandag 17 September. ‘n Aksieplan sal onmiddellik daarna opgetrek word.

“Sommige van die mislukkings is nie as gevolg van die wetgewing nie, maar as gevolg van die vermoë van die staat om dit te implementeer.”

“Nuwe strategieë word ontwikkel, insluitende die daarstelling van die Grondregtebestuursfasiliteit.’

Regsverteenwoordiging het nog altyd die uitslag van uitsettingsake bepaal en sodoende het plaaswerkers en plaasbewoners sulke sake verloor.

“Dit is belangrik dat die staat behoorlike meganismes in werking stel om diegene wat nie regsverteenwoordiging kan bekostig nie van hulp te wees.”

Ander elemente van die Grondregtebestuursfasiliteit sal ‘n oproepsentrum by die departement insluit om plaaswerkers en –bewoners te help, asook ‘n kommunikasiestrategie om bewustheid van grondregte te verhoog.

“Ek beoog om ‘n grondregtebewustheidsveldtog van staple te stuur en om ook gebiede met ‘n hoë voorkoms van uitsettings te besoek,” het sy gesê.

“Dade van mishandeling op plase was nie in belang van die groei en ontwikkeling van landbou, ‘n belangrike pilaar van die landsekonomie, nie,” het sy voorts verklaar.

“As regering gaan ons alles in ons vermoë doen om toestande op plase te normaliseer.”

Xingwana het ‘n beroep op boere wat steeds die menseregte van hul werkers skend gedoen om “sulke gedrag te laat vaar”.

“Ek wil boere ook vra om die werksomstandighede van diegene wat hulle dien te verbeter. Aan die ander kant doen ek ‘n beroep op plaaswerkers om met hul werknemers saam te werk,” het Xingwana gesê.

стоимость брекетов на зубыФильчаков прокурор отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae