Onlangs het pres. Jacob Zuma daarop aanspraak gemaak dat die Here van die ANC se stigting af deel van die party was. Hierdie aanspraak volg op ander verstommende aansprake soos dat die ANC tot die Wederkoms sal regeer, en dat mense Zuma moet volg soos hulle Jesus gevolg het.
Soos te wagte sal wees, was daar heftige reaksie hierop.
‘n Christen word egter aan sy vrugte geken, en op die oog af klop sake nie hier nie. Oor die kwessie van Zuma se veelwywery is daar binne teologiese kringe ‘n effense verdeeldheid, maar oor sy buite-egtelike kinders kon hy uiteindelik nie agter sy kultuur skuil nie, en moes hy die land om verskoning vra.
Pas het Zuma egter sy jongste verklaring gedoen oor hoe God as’t ware lid van die ANC is, of hy verklaar by ‘n vergadering dat die voorvadergeeste diegene wat die ANC verlaat aan die kaak sal stel en dat hulle siek sal word. Dit volg nie lank nie nadat Zuma gesê het swart mense is moreel verplig om vir die ANC te stem.
Hierdie bontpratery oor Godsdiens staan voorts in die konteks dat pres. Zuma ‘n nasionale debat aangekondig het waar oor moraliteit besin gaan word, en moontlik herdefinieer gaan word want tans word te veel sake as verkeerd beskou wat sommige kulture as aanvaarbare praktyke beskou.
Suid-Afrika is egter nie ‘n ekonomiese en kulturele eiland nie, en die norme wat internasionaal geld, gaan op Suid-Afrika van toepassing bly. Die belangrikste aanduider is dat die Wêreldbank korrupsie as die diefstal van ‘n land se toekoms beskou.
Kritiek op Zuma om as’t ware die tokkolossie in te span om te keer mense dros van die ANC, beteken allermins dat Suid-Afrikaners die Here uit die politiek kan sluit. Die Christen is immers ‘n instrument van God – in sy kerk, sy gesin, die skoolbeheerraad en so ook in die parlement. God is egter nie die mens, ook nie die Christen, se instrument nie.
Dit geld ook Zuma, selfs nie eens as hy die onvoorwaardelike steun van die Inter Faith Leadership Forum het nie, wat volgens aanduidings in ieder geval van die ANC se godsdienslessenaar af beheer word.
Zuma se optrede is egter nie net vanuit ‘n moraliteits- en godsdiensoogpunt ontstellend nie. Dit plaas bedenkinge oor sy begrip oor wat die demokrasie behels. ‘n Regerende party probeer sy bewindslewe rek deur so goed as moontlik in algemene belang te reageer.
In verskeie opsigte faal die ANC, sodat selfs prominente lede sê die ANC het sy morele kompas verloor. Tydens die ANC se bewind het die grypsug en tenderpreneurskap beduidende afmetings aangeneem, en het die inkomstegaping tot die hoogste meetbare vlak ter wêreld gestyg.
Die regering voel die gevolge nou wel deeglik. Op die vooraand van die Fifa-sokkertoernooi sukkel die land om vervoerstakings die hoof te bied. Hierdie stakings is hoofsaaklik die gevolg daarvan dat, na voorheen met die vakbonde ooreengekom is op ‘n enkelsyferverhoging vanjaar, die bestuur ‘n 14 % verhoging aan homself gaan toeken het.
In Europa en elders het hierdie grypsug, wat mildelik tot die onlangse wêreld ekonomiese krisis bygedra het, veroorsaak dat lande belangrike moraliteitsbeginsels in hul herstelplanne ingeskryf het. Die ontsteltenis was dus groot toe dit rugbaar word dat een van die Amerikaanse maatskappy wat staatshulp ontvang het, van dié geld gebruik het om van sy top-mense bonusse van miljoene dollar betaal het.
Om die slagoffers van grypsug met die tokkolossie bang te maak – dit gaan in geen moraliteitsboekie die pyp rook nie – maak nie saak hoe dit herdefinieer word nie.
