AfriForum en die VF+ se meningsverskille is op die spits gedryf deur die gelykheidshof se versoek dat hul saak en dié van die VF+ teen Malema saamgevoeg word.
Solidariteit en Afriforum het die VF+ voorheen daarvan beskuldig dat hulle voordeel wil trek uit die publisiteit wat die twee burgerregte-organisasies kry.
AfriForum vra nou in hofstukke dat die samevoeging nie moet gebeur nie. Kallie Kriel, hoof van AfriForum, sê hulle wil nie in ‘n “stryery” betrokke raak nie. Hulle sal nietemin voortgaan om die samevoeging teen te staan.
Volgens AfriForum is dr. Pieter Mulder se adjunkministerskap die rede waarom die twee aansoeke nie saamgevoeg moet word nie.
Pieter Groenewald, parlementêre leier van die VF+, sê AfriForum se argument is bedenklik.
“Ek wil dit eerstens duidelik stel dat die gelykheidshof gevra het dat die sake saamgevoeg word; nie ons nie. Ons was wel bereid om dit te aanvaar indien AfriForum bereid sou wees.
“Nou dink ek dit is beter dat die sake geskei word, want dis nie ’n goeie idee om die ANC ook te dagvaar nie.
“Toe ons destyds die klag teen mnr. Peter Mokaba se sing van Kill the Boer ingedien het, het die destydse sekretaris-generaal van die ANC, mnr. Kgalema Motlanthe, bloot ontken dat dit ’n vryheidslied van die ANC was.
“Die ANC kon dus nie verantwoordelik of aanspreeklik gehou word nie en daar is geen regsgronde vir die argument nie.”
Groenewald het ontken dat daar ’n belangebotsing ontstaan het omdat Mulder as adjunk-minister in die ANC-regering dien.
Hy het gesê Mulder het ’n strafregtelike klag teen Malema ingedien wat Afriforum se beswaar dat die ANC en die regering dieselfde is, onsinnig laat lyk.
Die gelykheidshof het geen beslissing of die twee sake saamgevoeg moet word gegee nie. Die saak is na die hooggeregshof verwys.
