Pas is bekend gemaak dat partypolitiek as deel van studentepolitiek waarskynlik by Kovsies afgeskaf gaan word. Terselfdertyd toon ‘n opname in Nederland dat politieke partye in Nederland verbaal meer regs afslaan vir die komende algemene verkiesing as wat selfs die partye se eie verkiesingsmanifeste aandui.
Dit is ‘n bekende feit dat politiek in Wes-Europa ‘n groot regse oplewing beleef.
Die ontleedmes hieroor is uit, en die argumente is soortgelyk as hoekom die kiesers in verskeie Wes-Europese state die liberalisme – eintlik permissiwiteit – van die laaste kwart van die vorige eeu die rug toegekeer het en Christen-demokratiese Partye in effektief post-Christelike lande aan bewind gestel het.
Nou wil dit oppervlakkig voorkom asof die Christen-demokratiese era dalk ‘n soort van tussenfase kan wees vir ‘n skuif na nog verder regs.
Die antwoord is heel waarskynlik soortgelyk as dit wat die op die oog af die polariserende karakter van studentepolitiek op voormalige Afrikaanse universiteite kenmerk.
Met die oopstel van hierdie universiteite het die dinamika vinnig verander. Dit het gepaard gegaan met ‘n noodwendige afskaling van Afrikaans, en is nie oral ewe knaphandig aangespreek nie. Dieselfde links-radikale politiek wat studentepolitiek op die ou swart kampusse gekenmerk het, het oornag ook op die tradisionele Afrikaanse kampusse kom nesskop. Dit het die dieselfde soort van studenteprotes ingesluit.
Skielik was daar nie meer ruimte vir die sogenaamde middelgrond nie. Tradisionele Afrikaanse studente-organisasies moes partypolitiek amalgameer of verdwyn.
Ook hierop reageer universiteitsowerhede nie altyd met Salomo se wysheid nie. In die klaskamers word die teorie geleer van elke aksie wat ‘n teenreaksie tot gevolg het, maar as dit in die praktyk neerslag vind, word kopgekrap en opnuut reaktief opgetree.
Die opkoms van Christen-demokrasie in Wes-Europa is onder meer toegeskryf aan ‘n oorversadigheid van permissiwiteit soos seks-winkels op straathoeke, bordele, aandrang op die wettiging van dagga en ander dwelms, gru-reaksie op massaslagtings deur aborsies en ‘n koerslose jeug wat hulle tot sake wend soos die Baader-Meinhoffs. ‘n Tweede faktor is die invloei van mense uit Oos-Europa met konserwatiewer Christelike waardes wat op die bevolking afgegee het.
‘n Persepsie bestaan voorts dat baie van die misdaad ook na immigrante uit minder ontwikkelende lande teruggelei kan word.
Te midde van die opskiet van moskees het die selfversekerdheid post-Christelikheid as mode sy glans verloor.
Die oorkoepelendheid van die Europese Unie het tot gevolg dat plaaslike nasionalisme, selfs dit wat amper vergete was, op die een of ander wyse weer lewend geword het. Skotse en Walliese parlemente is ingestel, en word na hul webwerwe gekyk, straal die trots uit die kwaliteit daarvan. Vlaandere raak nukkerig met sy blok-aan-die-been, maar meerderwaardige Walloniese landsgenote. Die Friesiese kultuur blom en verskillende dialekte daarvan word afgestof. Brabants het sy eie Bybelvertaling gekry.
Universiteitsowerhede wat meen om studente, met verreweg beter kwalifikasies as die gemiddelde Suid-Afrikaanse kieser, kunsmatig van die natuurlike verloop van studentepolitiek te beroof, herinner aan lesse wat Lord Milner ook al hier op Suid-Afrikaanse bodem moes leer.
Spreek eers die oorsake aan. Die simptome sal self daarop reageer.
