Die Vryheidsfront Plus en die ANC het vandag gesprek gevoer in Johannesburg. Die VF Plus-afvaardiging bestaande uit die party se Uitvoerende Dagbestuurslede, is gelei deur dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier en adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye en die ANC-afvaardiging is gelei deur mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal.
Dr. Mulder het die gesprek as verkennend, maar konstruktief beskryf. Waar die gesprek vir een uur beplan was, het dit uiteindelik 3 uur geduur.
Van die sake wat bespreek is:
· Pleknaamveranderinge;
· Die gebruik van Afrikaans as onderrigmedium in skole en universiteite;
· Misdaad en veiligheid en sekuriteit van boere;
· Amnestie-aangeleenthede;
· Selfbeskikking;
· Armoede en regstellende aksie.
Aan die einde van die gesprek is op ‘n spesifieke werkswyse ooreengekom waarvolgens die verskillende sake wat geïdentifiseer is verder hanteer sal word met die oog op opvolggesprekke.
