Na bewering het Ntuli-Zuma nie haar elektrisiteitrekening betaal nie.
Volgens Zizi Kodwa, presidensiële mediaraadgewer, kan niemand dié bewerings op hierdie stadium bevestig nie.
“Ek is glad nie bewus van so iets nie,” het Kodwa gesê.
Die hoof van die elektrisiteitsdepartement by die eThekwini-munisipaliteit, Sandile Maphumulo, het gesê dat hulle nie oplet wie se elektrisiteit afgesny word nie.
“Ons sit heelwat wonings se elektrisiteit af sonder dat ons weet aan wie die eiendom behoort. Ek kan dus nie die voorval bevestig of ontken nie,” het Maphumulo gesê.
The Mercury het Woensdag berig dat Ntuli-Zuma in ‘n huis sonder water of elektrisiteit woon.
Sy het na bewering sowat R9 500 aan die munisipaliteit geskuld. Die geld moet eers ten volle betaal word voordat die munisipaliteit weer die kragtoevoer sal aanskakel.
Ntuli-Zuma woon reeds die afgelope vyf jaar in ‘n luukse woning in Morningside, Durban saam met haar twee kinders en ander familielede.
Na bewering is sy reeds sedert verlede week sonder enige elektrisiteit. Daar was vroeër vanjaar ook gerugte dat Ntuli byna uit die huis geskop is omdat daar ontevredenheid was rakende die huur.
Ntuli-Zuma se selfoon was afgeskakel en sy kon nie vir kommentaar bereik word nie.
