“Toe het ek só gehuil,” vertel ‘n inwoner van Langenhovenpark, Bloemfontein na sy in ‘n nabygeleë koppie na haar vermiste kat gaan soek het, en sy op ‘n goedversorgde dooie kat in ‘n valstrik afgekom het. Die kat kon nog nie lank dood wees nie. Haar eie kat word nog vermis.
Mev. Annalene van Staden het die Bewarea genader na sy na haar kat gaan soek het, en haar hond saamgeneem het. Sy is versoek om haar verhaal aan die Polisiëringsorum-vergadering, wat dieselfde aand plaasgevind het, te kom vertel. Eers is haar hond in een van die strikke bestaande uit ‘n houtpen wat in die grond ingeslaan is en “weed eater”-lyn bestaan, gevang. Dié groot hond kon nie self loskom nie.
Sy het hierna op nog verskeie strikke afgekom, sommiges bestaande uit staalstawe en soortgelyke lyn, voor sy die doodgewurgde kat ontdek het. Die kat is in een van die wippe met ‘n staalstaaf gevang.
Ontstelde lede van die Polisiëringsforum het versoek dat die polisie gesprek voer met bouers by ‘n bouterrein naby die toegangstrook na die koppie. Die polisie sal hul deurlopende aksies om bosslapers op te ruim, verskerp. Die vrou het die DBV ook reeds in kennis gestel, en ‘n klag by die polisie gelê.
Die Bewarea stel ondersoek in na moontlikhede om toegang tot die koppies te beheer. Die Bewarea wil graag die ou skanskraal op dieselfde koppie waarop die strikke nou gekry is, restoureer. Dié skanskraal is juis, aldus ‘n bewaringskundige, afgebreek toe bouers met die eerste bouwerk in Langenhovenpark dassies gejag het. Die gemeenskap wil graag die koppies as bate “terugwen.”
