Vandag hang die land se vlae by wyse van spreke halfstok. Protesaksies teen misdaad, wat deur Solidariteit gereël word, word landswyd gehou.
Min sake het die aandag op die land se misdaadvlakke gefokus soos toe die presidensie vroeër vanjaar geweier het om kruiwavragte vol protesmemorandums teen misdaad in ontvangs te neem. Dié blaps is later reggestel.
Met Suid-Afrika wat onlangs die titel van die wêreld se moord-hoofsetel by sy voorheen verworwe titel van verkragtingshoofsetel gevoeg het, spreek dit vanself dat die fokus in die land deurgaans op misdaad sal val.
Met die een oog op die misdaadvlakke, is die ander oog op die polisie se vermoë om die misdaad aan te spreek. Dit is nog maande voor die volgende misdaadstatistieke beskikbaar gestel word, en ‘n polemiek het reeds daaroor losgebars.
Intussen gaan minstens een GPF ‘n brief van protes aan die polisiebestuur rig omdat daar nou selfs op hierdie vlak opdrag is om misdaadstatistiek in die omgewing, van die publiek te weerhou. Hierdie GPF meen dit is onredelik van die bestuur om te vra vir gemeenskapsbetrokkenheid, maar dan diegene wat wel deelneem, so te behandel. Hierdie GPF verwoord bloot die ongelukkigheid wat die opdrag landswyd tot gevolg het.
Boonop word vandag berig dat genl. Cele en sy span in die parlement met die roede te make gekry het omdat hulle lastige vrae nie kon beantwoord nie, en toe uitstel gevra het om voor te berei. Een van die vrae wat nie beantwoord kon word nie, is hoe gemiddeld R139 miljoen gespandeer kon wees in die bou of verbetering van 23 polisiekantore.
Gereelde berigte verskyn waaruit dit wil voorkom asof die ras-kwessie eerder as bekwaamheid die norm vir die lot van lede van die polisie is. Dit strek aan aanstelling tot bevordering tot dissiplinêre optrede. Politieke en vakbond- affiliasies tel gereeld ook skynbaar meer as reg en verkeerd.
Oor die kwessie van die opheffing al dan nie van die moratorium op die aanstelling van reserviste kom dit voor asof die linkerhand nie weet wat die linkerhand doen nie. Beide kampe het amptelike dokumentasie wat hul standpunte onderskraag.
Die polisie se forensiese afdeling het ontsaglike agterstande.
Gelukkig is daar ook baie goeie en knap polisielede soos die oorvol tronke getuig.
Met die Nampo-oesdag onderweg, val die fokus ook nou weer op die muur van herinnering op die oesdagplaas waar die name van duisende vermoorde plaasaanval-slagoffers aangebring word – ‘n lys wat ontstellend vinnig aangroei.
Dit spreek vanself dat die land se probleme nie opgelos gaan word as die fondamente van moraliteit nie reg gelê is nie. Dit is al oor en oor bewys dat die uitdeel van kondome as teenvoeter vir Vigsverspreiding die teenoorgestelde uitwerking het omdat dit die gedagte aan bandelose seks legitimiteit verleen.
Met bykans 800 000 babas wat reeds sedert die wettiging van aborsie in Suid-Afrika wettig geaborteer is, word geen sinvolle boodskap oor die waarde van ‘n menselewe uitgestuur nie.
Te midde hiervan het die president te midde van weerstand aangekondig dat ‘n debat oor die herdefiniëring van moraliteit gevoer gaan word. Aan die bod is die “lastigheid” dat te veel kwessies waarmee sommige kulture geen probleme het nie, deur die geldende norme as verkeerd beskou word. In ‘n land waar korrupsie ‘n endemiese omvang aangeneem het, is dit speel met vuur.
