Alan Paton was die leier van die eerste liberale beweging in Suid-Afrika. Helen Suzman was die leidster van die tweede.
Beide bewegings het weens hulle Engelse leiers onder moderne Afrikaners misluk.
Dog die tweede liberale beweging het op sy sterfbed ‘n belangrike deurbraak gemaak danksy Slabbert se Stellenbosch-steun aan Suzman se parlementêre party.
Na Slabbert se toetrede tot die openbare politiek was die interne eenheid van die Afrikaner verbreek. Met Slabbert was liberale leiers nie meer Engelse en Jode nie, maar die mees aangename en intelligente Afrikaner self. Die koeël was deur die kerk. In die geskiedenis van die eerste Afrikanerstaat was Slabbert as slim Afrikaner die keerpunt, soos ook Hermann Giliomee in sy Rapportrede laat blyk.
Liberalisme is Rasionalisme in politiek. Rasionalisme glo in die menslike rede en verstand as die hoogste gesag. Alle mense het rede en verstand, maar sommige meer as ander. Slabbert was as Afrikanerseun geseën met uitermate baie rede en verstand, en daarom het hy ook diepe aanklank gevind by Karl Popper se probleemplossings vir die praktiese politiek.
George Soros was die uiters intelligente man wat rigting aan Slabbert se reise gegee het, en hom herhaaldelik in sy liberale missies geldelik gehelp het waar nodig, onder meer as Raadsvoorsitter van Die Vrye Weekblad.
So het Slabbert “man-alleen” die nuwe Suid-Afrika gemaak, want die reis na Dakar was deurslaggewend. Tegnies-juridies gesproke was dit hoogverraad, aldus eerlike Slabbert se eie skrywe in Duskant die Geskiedenis.
Die groot krag en politieke mag van die menslike rede en verstand – ook Afrikanerintellek – tree in intelligente Slabbert soos in slim Jan Smuts se lewe op die voorgrond van die geskiedenis.
Met Afrikaner Jan Smuts het nie alleen die VN nie, maar ook die eerste Afrikanerstaat in 1948 as onbedoelde gevolg begin. Met Afrikaner Frederik van Zyl Slabbert het die einde van die eerste Afrikanerstaat, maar ook die tirannieke ANC-sukkelstaat as onbedoelde gevolg begin.
Die menslike rede en verstand bedoel baie goed, maar dit is bakterie met minder intellek en meer instink wat die langste in die natuur oorleef.
Elkeen van ons, links of regs, het genoeg rede en verstand om liberaal te kan dink. Liberale denke verg egter nugtere dissipline en natuurlike instink om die onbedoelde nadele en ongesonde gevolge daarvan in die toekoms te antisipeer.
Laat dit vir ons almal ‘n les wees: oordosisse alkoholiese drank tesame met veel rede en verstand lei tot oorgewig, geheueverlies, lewerskade en uiteindelik die selfmoord van die superslim menslike organisme.
‘n Reuse Afrikaner het voortydig gesterf. Die vraag is nou: kan ‘n komplekse Suid-Afrika by die gebrek aan sulke intellek oorleef?
