Die ATKV bring hulde aan wyle dr Van Zyl Slabbert wat Vrydagoggend in die ouderdom van 70 jaar in Johannesburg oorlede is.
“Dr Slabbert was bekend vir sy diplomasie as politikus en word geëer vir die bydrae wat hy as Suid-Afrikaner, maar veral as Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner op die gebied van die politiek, akademie en kultuur gemaak het,” het mnr Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, vanoggend gesê.
Hy was geliefd vir die wyse waarop hy sy Afrikanerskap uitgedra het en nie geskroom het om sy mening oor Afrikaans-wees te lug as die geleentheid hom voorgedoen het nie. Hy het sy kultuur uitgeleef en sy sterk geloof in die beginsels wat hy nagestreef het, was ‘n voorbeeld vir alle Suid-Afrikaners.
Sy stryd teen onregverdigheid en ‘n strewe na gelyke sosiale instellings in Suid-Afrika en die eerbare wyse waarop hy sy deel gedoen het om ‘n demokratiese Suid-Afrika te vestig, sal ons altyd as voorbeeld bybly.
“Ons eer die rol wat hy as Afrikaner in ons land gespeel het en wil graag ons medelye met sy vrou Jane en sy twee kinders Tania en Riko, sy familie en naasbestaandes in hierdie hartseertye uitspreek,” het Gouws gesê.
