President Zuma is uit voeling met die gevoelens van minderhede en van baie ander Suid-Afrikaners as hy sê dat dit nie waar is dat Suid-Afrikaners onseker is oor die toekoms nie.
Dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier en adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, het in sy toespraak tydens die president se begrotingspos gesê dat baie Suid-Afrikaners onseker is oor die toekoms van die land. Hy het spesifiek na die gevolge van die gebeure van die laaste paar maande rondom mnr. Malema verwys.
Mnr. Zuma het daarop gereageer deur aan te dui dat die ANC van dr. Mulder se standpunt verskil. “Suid-Afrikaners is optimisties oor die land,” het mnr. Zuma gesê.
“Dit is die werk van VF Plus as opposisieparty om die regering op sy tone te hou en te sorg dat die gevoelens en standpunte van alle kiesers onder die aandag van die regering gebring word. Dit is wat ek gister in die debat gedoen het. As die ANC nie daarvan hou nie gaan dit nie help om die feite te ignoreer nie,” het dr. Mulder gesê.
“Die onsekerheid onder Afrikaners en ander minderhede as gevolg van onverantwoordelike uitsprake deur sommige ANC-leiers, het niks te make met ‘n teruggryp na ‘n verdeelde verlede gebaseer op rassisme of haat nie. Minderhede is gereed om ‘n positiewe bydrae te maak, maar is moeg daarvoor om vir alles geblameer te word,” volgens dr. Mulder.
