Verder van ‘n verkiesing, en Afrikaans moes hom na die grondwethof wen om die regering se onwillige agterent in rat te kry om ‘n taalwet, wat die grondwet vereis, op die wetboek te kry. Dit was nie soseer die draling met die wet wat gepla het nie, maar die regering se repliek op die hofaansoek, naamlik dat Afrikaans self vir sy gebruiks-agteruitgang en juridiese onderploeging verantwoordelik gehou word.
Maar maak Afrikaanssprekendes hul stem bietjie dik, al is dit om vanuit gewoonlik uiters gematigde oord ‘n bietjie briek aan te slaan met die aftakeling van Afrikaans soos by die US, dan is dit nie lank nie of ‘n minister of twee spring iewers woedend op en pak uit oor diegene wat transformasie in die wiele ry. Soms word dit blatant gestel dat die aandrang op ‘n regverdige aandeel vir Afrikaans deur baie mense as ‘n politieke daad van aggressie teen hulle vertolk word.
Afrikaans se stryd om oorlewing is veelvlakkig. Verskeie eens Afrikaanse landboukolleges is dit glad nie meer nie. Die momentum was blykbaar om ook die ander volledig te verengels omdat, soos dit verklaar word, die primêre opleidingsteiken swart, bruin en Indiërboere is.
Afrikaanse studente by Potchefstroom se landboukollege, wat as die Pampoenboere bekend staan, kla al lank dat daar erg teen Afrikaans gediskrimineer word. Uiteindelik het Afriforum by die Departement van Landbou aangedring dat die hoof, na ‘n lang reeks insidente wat ook op ander vorme van moontlike wanbestuur dui, ontslaan word.
Toe volg die proses van Afrikaanse diskriminasie by die Grootfontein-kollege by Middelburg in die Karoo waar die oorgrote hoeveelheid studente Afrikaanssprekend is. Tot die Departement van Landbou se krediet is skaars stem dik gemaak, of die departement het onderneem om die proses te staak.
Die les is dat groot waaksaamheid aan die dag gelê moet word, en dat elke aksie van Milnerisme van die kleinste en laagste vlak, tot die hoogste vlak, aangespreek moet word. Geen steen mag onaangeroer gelaat word nie.
Dit is byvoorbeeld ook duidelik dat die entoesiasme waarmee op pleknaamveranderinge aangedring word, veel minder is as die name Engels is.
Ongelukkig is Pansat tandeloos, en die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe disfunksioneel, wat in effek slegs die howe ooplaat.
Maar elkeen kan sy deeltjie doen. Maak dit duidelik waarheen ‘n mens se geld gaan, en as dit dan na ‘n instansie moet gaan wat teen Afrikaans diskrimineer, maak dit iewers, soos briewe aan koerante of op die internet, duidelik dat dit onder protes is. Die feit dat Afrikaans van die nuwe gedrukte note verwyder is, beteken nie Afrikaanssprekendes se koopkrag is opeens daarmee heen nie.
Burgerlike organisasies se rol as bemiddelaars, en as dit nie help nie, as drukgroepe, is onontbeerlik.
Die vragte Afrikaanse literatuur wat die lig sien, vertel nie die volle verhaal nie. Slegs ‘n klein persentasie word vir die uitgee van harde kopie gekeur. Die leeueaandeel byt in die stof wens ‘n verskeidenheid redes. Wat vaktaal betref, raak dit al moeiliker om Afrikaanse inligtingsbronne te bekom, in skrille kontras met die groot ywer waarmee Afrikaanse entoesiaste bykans onmiddellik na Afrikaans amptelike status verwerf het, vir ensiklopediereekse en ander vakboeke gesorg het.
Die internet het ‘n noodgedwonge aflaaiplek vir Afrikaans geword wat nie in harde kopie die paal haal nie. Ongelukkig veroorsaak dit dat spel- en taalfoute, wat danksy die skoolstelsel floreer, ongeredigeerd aan lesers opgedis word. Maar dit leef, al is daar nie soos by die gedrukte weergawe groot literêre en ander pryse ter sprake nie.
