Die NVG, die nasionale vervolgingsgesag, het opdrag gegee dat die arrestasies uitgevoer word.
Kapt. Tsletsi Mano, bevelvoerder van die eenheid teen ernstige geweldmisdrywe in Noordwes, is Dinsdag bevorder, berig Beeld. Dit kom nadat Mano en vyf ander lede van die eenheid teen ernstige geweldmisdrywe Vrydag in Klerksdorp in hegtenis geneem is.
Die arrestasies spruit uit voorvalle waar verdagtes na bewering ernstig aangerand is tydens ondervraging en aanhouding.
Die ses lede het Vrydag in die hof verskyn en is op borgtog van R500 elk vrygelaat. Die saak is tot 8 Junie uitgestel.
Kol. Musa Zondi, woordvoerder van die Valke, het gesê Mano hoef nie gestraf te word vir iets waaraan hy nog nie skuldig bevind is nie. Hy het gesê die kwessie het niks met die media te make nie.
