Die ANC se interne verhoor rondom Julius Malema behoort volgens dieselfde beginsels hanteer te word. Drie van die vier klagtes teen hom is egter laat vaar, waaronder die feit dat hy weer die liedjie, “Skiet die Boere”, gesing het na pres. Zuma gelas het dat die liedjie nie meer gesing word nie.
Tog is dit insiggewend waaraan Malema wél skuldig bevind is: Hy het naamlik in die openbaar gekla dat nie eens oud-pres. Thabo Mbeki het hom getugtig soos wat Zuma dit doen nie. Veral uit die vonnis, wat onder meer bepaal dat hy behandeling vir die beheer van sy woede ontvang, is dit duidelik dat sy optredes oor klagtes wat laat vaar is, wel deeglik verreken is. Dié vonnis sou veel beter pas by sy singery en veral die verleentheid wat hy die land besorg het met die uitjaag van ‘n BBC-joernalis tydens ‘n nuuskonferensie.
Dit blyk dat die drie klagtes as deel van ‘n pleitooreenkoms laat vaar is. So is heelwat van Malema se opgeblase statuur behou, maar ongelukkig is die polariserende effek van sy optredes op die Suid-Afrikaanse bevolking nie verreken en minstens ten dele ontlont nie. Hieroor is daar nog ‘n regsproses in die openbare regstelsel, waaronder ‘n verhoor voor die gelykheidshof.
Die beslissing dat die drie klagtes laat vaar word, het egter ook ‘n impak op Suid-Afrika se internasionale betrekkinge. Die belangrikste hiervan is die impak op Suid-Afrika se bemiddelingsrol in Zimbabwe. Malema het Suid-Afrika in die verleentheid gestel deur blatant kant te kies vir Robert Mugabe. Tegnies staan dié kantkiesery nou.
Presies hoe belangrik die komende gelykheidshof- en moontlike ander verhore geword het, blyk uit die bewoording van Malema se verskoning, wat hy as deel van sy vonnis moes aanbied. In dié verskoning wat hy aangebied het moes hy die verskoning rig aan die president van die ANC, die ANC en die publiek oor die algemeen.
Dit is egter waarvoor hy verskoning moet vra wat die smakie van pikantheid dra: Hy is jammer dat hy die ANC-president se statuur aangetas het, en dat hy verdeeldheid binne die ANC veroorsaak het. Dat die publiek in die algemeen hiervoor verskoning gevra moet word, dui daarop dat die dissiplinêre komitee ‘n ongesonde onvermoë het om die ANC van die staat te onderskei. Binne ‘n demokrasie is dit immers juis ‘n goeie ding as daar krake in ‘n te sterk regerende party kom, wat bowendien noustrop trek om in die beste belang van die land te regeer.
In vandag se dagbladpers word onder meer berig oor die agterstand van bykans R75 miljard in padonderhoud, terwyl Vrystaters blykbaar tot na die wêreldbeker sal moet wag voor die haglike padtoestande aangespreek word.
Van sterk voornemens om korrupsie vas te vat het na ‘n jaar op die troon nog bykans dadels gekom.
Op die telbord van optredes blyk darem nou dat ‘n belhamel wat die land oneindige skade berokken het, polarisasie die hoogtes ingjaag het, nou die man vir wie hy eens bereid was om ander dood te maak, om verskoning moes vra weens oneerbiedigheid teenoor die einste persoon, die president self.
Die hele oefening, so lyk dit, was bloot om bietjie gesag aan Zuma se beeld as uitrafelende president te gee. Die ANC se belange is ook loshande bo dié van die land gestel.
Landsbelang is nou terug in die openbare regstelsel.
