“Hulle het beplan om Terre’ Blanche te vermoor,” het die ondersoekbeampte Ttietsi Mano gedurende die borgverhoor van een van die beskuldigdes, Chris Mahlangu, getuig.
“Die man gee ons moeilikheid. Ons gaan hom doodmaak,” het die verdagtes volgens Mano gesê.
Die hof het Maandag gehoor dat Mahlangu en sy 15-jarige medebeskuldigde na ‘n winkel gegaan het om ’n ysterpaal te koop waarmee hulle in die huis ingebreek het.
Hulle het Terre’Blanche in sy slaap met die paal en die panga aangeval.
Mano het gesê Mahlangu het die moordtoneel vir die polisie gaan wys, wat as ‘n erkenning van die moord beskou word.
Mano is tans uit op borgtog nadat hy Vrydag in hegtenis geneem is.
Volgens ‘n voorlopige opsomming van feite, meen staatsaanklaer George Baloyi, is Terre’ Blanche talle kere teen sy kop met die wapens gekap.
Hy het 28 beserings aan sy gesig, brein, tong, skedel, ribbekas en lewer gedurende die aanval opgedoen.
Die moordenaars het kort ná die moord Terre’ Blanche se selfoon gesoek om oor die moord te “spog”.
“Hulle het drie plaaswerkers gekonfronteer, waartydens beskuldigde nommer een aan hulle gesê het hy is nou hulle nuwe baas,” het Baloyi uit die opsomming van feite gelees wat Mano bevestig het.
Crimen injuria, wat aanvanklik ingesluit is omdat Terre’ Blanche se broek na die moord afgetrek was, was nie op Maandag se lys van klagtes nie.
Die 15-jarige het skool verlaat om vir Terre’ Blanche teen R500 en ‘n bed in die skuur te gaan werk.
Terre’ Blanche, ‘n knap ruiter, het die seun aangestel om na sy vee om te sien.
Hy het hom ook kos (pap en melk) gegee, wat per geleentheid vleis ingesluit het, het sy regsverteenwoordiger, Zola Majavu, gesê.
Die minderjarige gaan op 10 Junie onskuldig pleit wanneer hy na Ventersdorp terugkeer om vir borgtog aansoek te doen.
Sy verhoor begin in September.
Terre’ Blanche se broer, Andries Visagie, asook die sekretaris-generaal van die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) was teenwoordig by die hofverrigtinge.
