"As ‘n land moet ons ons lidmaatskap rasionaliseer," het hy aan joernaliste verduidelik aan die einde van sy driedaagse amptelike besoek aan Malawi. Rwanda het twee jaar gelede aansoek gedoen om deel te word van SAOG. Tans is daar 14 state wat deel is van die Ontwikkelingsgemeenskap.
Kagame meen dat lidmaatskap aan SAOG dalk nie so ekonomies voordelig sal wees as wat oorspronklik gemeen is nie. Hy het aangedui dat Rwanda wel binne die Oos- en Suid-Afrikaanse gemeenskap sal aanbly. Kagame was in Malawi om handels- en landboubetrekkinge uit te brei.
Kagame hoop om sy land in die Dubai van Suider-Afrika te omskep. Microsoft se Bill Gates, Riley Bechtel van Bechtel, Steve Forbes en topbestuurders van Google, Merrill Lynch, Starbucks, Columbia Sportswear, Morgan Stanley, en General Electric was al gaste van die president.
Die eertydse guerillaleier het ‘n diploma in sakestudies gedoen dmv korrespondensie toe hy as staatshoof ingetree het. Hy het sy eksamen onder toesig van die Britse ambassadeur afgelê. Die president hoop dat Amerikaanse sakevernuf sy land beter sal kan dien as hulporganisasies.
‘n Franse regter Jean-Louis Bruguière, het Kagame en 10 van sy militêre personeellede verlede jaar gelas om in Frankryk voor die gereg te verskyn omdat hulle klaarblyklik die noodlottige missiel op Hoetoe-president Juvenal Habyarimana se vliegtuig afgevuur het. Dié insident het die begin van ‘n volkskaalse volksmoord in Rwanda tot gevolg gehad.
Rwanda se buurlande, die DRK en Tanzanië, is albei SAOG-lede. Rwanda en Malawi het ook onderneem om hul kulturele bande te versterk.
