Namibië gaan gasarbeid afskaf

Namibië gaan nie langer die invoer van ongeskoolde werkers uit die buiteland wat werksgeleenthede voor die neuse van Namibiërs wegraap, duld nie. 

Daarmee saam is die tenderproses so aangepas dat ongeskooldes in die land pleks van buitelanders moet baat. Pres. Hifikepunye Pohamba het Saterdag tydens Werkersdagvieringe op Lüderitz dié goeie nuus oorgedra nadat hy deur ’n vakbondleier oor die benarde werkloosheidsituasie in die land en die toekenning van tenders aan buitelanders voor stok gekry is.

Honderde vakbondlede het vroegoggend op die hawedorp ’n vreedsame optog gehou waarna duisende toeskouers die middag by die stadion saamgedrom het om deur die President toegespreek te word. 

Die visepresident van die Nasionale Unie van Namibiese Werkers (NUNW), mnr. David Namalenga, het in sy toespraak nie doekies omgedraai oor werkverskaffing en die toekenning van tenders aan buitelanders nie.

“Plaaslike inwoners het politieke mag verkry, maar kan steeds nie daarin slaag om ekonomiese mag te verkry nie. Ons land is steeds gekenmerk deur erge ongelykheid.”

Hy het voorts gesê dat die ekonomie van enige land in die hande van plaaslike en inheemse mense moet wees.

“Die Tenderraad het die tendens om tenders aan swak kwaliteit lande toe te ken,” en bygevoeg dat “’n arm en honger mens ’n kwaad mens is”.

Die President was egter gereed met ’n teenantwoord: “Ons gaan nie langer meer die invoer van ongeskoolde werkers van ander lande aanvaar nie en as deel van ons pogings om werkloosheid te bekamp, het die Kabinet sekere beperkinge op die betrokkenheid van buitelandse burgers in sekere subsektore van die ekonomie goedgekeur.”

Die subsektore sluit in kleinhandel, haarkappery en intra-Namibië vervoer.
free casino downloadsтопкарго

Maak 'n opvolg-bydrae