‘n Verdere onheilspellende aspek is dat daar ook reeds meer as ‘n duisend internetskrywers agter tralies is.
Oor presies waar die grens tussen persvryheid en die regte van ander lê, sal nog lank gedebatteer word. Dat korrupsie en magsvergrype, onbevoegde regering en diktatoriale neigings nie op verskansing teen persvryheid geregtig behoort te wees nie, is vanselfsprekend. Die kwessie raak moeiliker as nasionale veiligheidsbelange ter sprake kom.
Die lesers en luisteraars is op ‘n media geregtig wat die waarheid verkondig.
In Utopia sou dinge stellig baie anders uitgesien het as die brak kolle wat nou nie net persvryheid kenmerk nie, maar ook dikwels die blatante skeeftrek wat soms in die media plaasvind – hetsy deur blatante en boonop amateuragtige regeringspropaganda, joernaliste en mediabase met eie agendas, dikwels politieke agendas, en dan gewone onbeholpenheid wat weer dikwels na onervarendheid of lae kwaliteit aanstellings veroorsaak word. Veral die gedrukte pers gaan onder gelddruk gebuk, en om topkwaliteit joernaliste aan te stel of in diens te hou is dikwels moeilik. In Suid-Afrika word sake verder gekompliseer deur wetlike kwotavereistes.
Nuusmedia het gister ‘n berig uitgesaai waarvan die herkoms aan Verslaggewers Sonder Grense toegedig is, waarin Suid-Afrika in die besonder geloof word. Volgens die berig beklee Suid-Afrika nou ‘n verbeterde posisie op die internasionale persvryheidsindeks.
‘n Deeglike bestudering van die organisasie se webwerf bring nie so ‘n verklaring aan die lig nie. Suid-Afrika beklee steeds die 33ste posisie, met die nuwe indeks wat binnekort verwag word. Op hierdie indeks het Suid-Afrika die afgelope aantal jare taamlik die kreeftegang gegaan nadat Suid-Afrika in ‘n stadium die mees persvrye land op die kontinent is. Dit is lank nie meer die geval nie. Die positiewe berig is vermoedelik saamgestel deur ‘n joernalius wat nie opgelet het dat hy baie ou data van die webwerf haal nie.
Wat wel gister gepubliseer is, is die media-preditatore-lys – dit wil sê die 40 lande of organisasies wat die negatiefste op persvryheid inwerk.
Suid-Afrika is nie op hierdie lys nie, maar so eenvoudig is dit ook nie. Onder die lande wie se regeringshoofde wel op die lys is, tel lande soos Swaziland, Zimbabwe, Kuba en Tunisië. Dit is moeilik om te dink dat enige land wat oor sy beeld en reputasie bekommerd sal wees, so baie vriende op ‘n muishondlys sal gaan maak soos Suid-Afrika. Onlangs nog is op TV groot gewag gemaak oor die opskerp van betrekkinge met Tunisië.
As Suid-Afrikaners gedink het Verslaggewers Sonder Grense het die ANC se versuim om Julius Malema se sangtalent in die bek te ruk, misgekyk, het hulle dit mis. Die volgende sin kom voor in ‘n brief van VSG se Afrikalessenaar, Ambroise Pierre, aan ‘n bekommerde Suid-Afrikaner: “We followed the Malema incident and took good note of it.”
Die les is eenvoudig: Die ANC is internasionaal nie meer die onaantasbare engeltjies wat hulle geglo het hulle is nie. Pierre gaan voort om ‘n behoorlike bespreking oor die persvryheidsituasie in Suid-Afrika aan te vra.
Uit Suid-Afrikaanse joernalistieke geledere is gister ook gekla oor viktimisasie waaraan hulle onderwerp word. Kameras wat afgeneem en die inhoud gewis is, het nie ongesiens verbygegaan nie.
Dit neem egter nie die feit weg dat daar ‘n groot behoefte is om nuuswerk in Suid-Afrika se kwaliteit te verhoog nie. Laat dit dadelik duidelik gemaak word dat daar knap, bitter knap joernaliste in Suid-Afrika is. Hul grootste struikelblokke is dikwels hoofde wat niks anders as Politieke Kom as Narre is nie.
Tog is daar kommer: Hoe gebeur dit dat ‘n baie groot Afrikaanse koerant skaars ‘n week na ‘n landdros opdrag aan die media en politici gegee het om nie hofverrigtinge vooruit te loop en die aangeklaagdes vooruit skuldig te bevind nie, ‘n lesersbrief kan plaas waarin na die beskuldigdes as misdadigers verwys word?
Die bekende en dikwels omstrede prof. George Claassen, het onlangs in ‘n radio-onderhoud toegegee dat wetenskapverslaggewing in Suid-Afrika nog werklik veel te wense oorlaat. Die kundigheid in hierdie spesialisveld ontbreek gewoon.
Al vaar Suid-Afrika nog goed in die sin dat die begraafplase en tronke nie vol joernaliste is nie, is daar ruimte vir verbetering.
