Die aanloop tot die verkiesing is oorheers deur die eerste voorverkiesingsdebat wat nog op TV uitgesaai is. Dit was vooraf duidelik dat die stugge Brown gaan sukkel teen sy charismatiese, jonger teenstanders David Cameron en Nick Clegg.
Min mense kon egter voorspel dat Brown se knorrige persoonlikheid so dramaties ontbloot sou word as toe hy betrap is dat hy ’n bejaarde weduwee beledig het nadat sy hom oor immigrasie gekonfronteer het.
Cameron, leier van die Konserwatiewe Party, het gehoop op ’n stewiger voorsprong, maar dit lyk of hy nietemin die gunsteling is.
Cameron was die voorloper in die debatte, maar sy vertoning het baie kiesers teleurgestel.
Hulle is van mening dat hy te gladweg antwoord en ook te selfversekerd. Die Tories se boodskap van verandering ná die uitgaweskandaal van wetgewers en die kwaai resessie is deur Clegg van die Liberaal-Demokrate uitgebuit om sy kanse te verbeter.
Die Tories mag dalk voorloop in die meningspeilings, maar nie met die dubbelsyfers wat hulle verlede jaar vir maande gesmaak het nie.
Hulle sal in die laaste paar dae hard moet werk, terwyl gerugte van ’n nuwe regering sonder ’n volstrekte meerderheid die ronde doen.
Die konserwatiewe leier se agtergrond – hy is glo ’n afstammeling van koning William IV – het gelei tot beskuldigings dat hy te bevoorreg is om die gewone Brit se probleme te begryp.
Clegg het die afgelope paar weke meteoriese opgang gemaak en sy party beklee tans die tweede plek in meningspeilings.
Die 43-jarige Clegg is verlede week in ’n peiling glad aangegee as die gewildste Britse leier sedert Sir Winston Churchill.
