Verskeie versoeke is reeds gerig om ‘n noodtoestand af te kondig. Een hiervan is om ‘n noodtoestand af te kondig sodat misdaad op plase aangespreek kan word. Die regering het nie hierop gereageer nie.
Nog ‘n voorstel is oor die toestand van die land se rioolaanlegte, maar ofskoon slegs 32 van die land se meer as 800 rioolaanlegte goed werk, meen die minister dit is nie genoegsame rede tot kommer om ‘n noodtoestand af te kondig nie. Vermoedelik moet dit eers tot pandemies lei.
Kom dit egter by die komende sokkertoernooi, het regeringswoordvoerders reeds ‘n geruime tyd gelede te kenne gegee dat niemand toegelaat sal word om die regering tot prestasie te dwing, deur die toernooi as hefboom te gebruik nie.
Onder die meer drastiese uitsprake was dié van die minister van Samewerkende Regering dat protesaksies teen dienslewering, daartoe sal lei dat swart woongebiede afgesper, en deeglik met die sterk arm van die regering te make sal kry.
Die minister van polisie het ook nou gewaarsku dat geen protesoptrede of arbeidsverwante onrus tydens die toernooi geduld sal word nie. Ook hierdie mense kan verwag om behoorlik vasgevat te word.
Van hierdie uitsprake is veel radikaler as dit waarvoor selfs ‘n formeel afgekondigde noodtoestand voorsiening maak.
Dit lyk egter nie of die regering enige planne vir die formele afkondiging van ‘n noodtoestand het nie, en die vraag kan gevra word of Suid-Afrikaners nou gereed moet maak vir ‘n de facto noodtoestand, waar die staatsmag vir homself drakoniese magte opeis sonder dat dit aan die grondwetlike beperkings wat vir ‘n behoorlik verklaarde noodtoestand moet geld, getoets word.
Kom die regering hiermee weg, kan die vraag ontstaan watter omstandighede voortaan as genoegsaam beskou sal word om ‘n de facto noodtoestand te laat geld.
