Suid-Afrika se paaie is gevaarlik met talle botsings wat jaarliks lewens eis. In die parlement word gedurig stof opgeskop oor botsende belange, en Jan en Alleman beleef die gevolge van kulturele botsings.
Dit is insiggewend dat die Openbare Beskermer bevind het pres. Jacob Zuma is skuldig deur die versuim om sy belange binne die etiese kode se spertyd te verklaar. Dit is ook kommerwekkend dat die OB bevind het Zuma is nie al kabinetslid wat agter dié deur staan nie.
Intussen woed die debat en verwarring oor Chancellor House voort. Trouens, die geval Chancellor House is ‘n duidelike demonstrasie van hoekom mense in politieke gesagsposisies wyd moet hou as belangebotsings voorkom.
Om ‘n hipotetiese voorbeeld ter demonstrasie te gebruik: ‘n Minister van Waterwese verkry ex officio kennis van ‘n nuwe dam en besproeiingskema. Om grondspekulasie te voorkom, word so ‘n projek aanvanklik in die grootste geheimhouding gevoer.
Intussen gaan die minister en koop grond persoonlik op by eienaars wat van g’n sout of water weet oor die komende projek nie, en kort voor lank, verkoop hy die grond teen ‘n stywe wins. ‘n Ruk later is die einste minister ‘n gunsteling vir ‘n hoër aanstelling, wanneer iemand met die sak patats vorendag kom, en die minister oornag in die vergetelheid verdwyn.
In die Chancellor House-geval het die Kabinet Eskom-verhogings goedgekeur, wat ‘n groter wins vir Chancellor House beteken, wat weer meer geld vir die ANC beteken. Dit is moeilik om te begryp hoe geen belangebotsings hierin gesien kan word nie.
Tenderpreneurskap het ‘n siekte geword. In die Vrystaat word die een tender na die ander nou deur die howe nietig verklaar, en in die jongste geval is gelas dat niemand wat by die toekenning van die ongeldige tender betrokke was, by die hersiening betrokke mag wees nie.
Gerugte oor korrupsie met tenders kom al ‘n baie lang pad. Lank voor 1994 het gerugte reeds die rondte gedoen oor tenderkorrupsie in Qwaqwa. Daar het tsjôtsjô die naam “handling fees” gekry – ‘n bedrag wat glo deur amptenare geëis word om tenders hoegenaamd oorweeg te laat word.
Na 1994 het gerugte en selfs beëdigde verklarings eerder meer as minder geword, en in een geval is die premier self beskuldig. Dié premier is volgens die gerugte so kontant dat hy sy koevertjies persoonlik gaan optel.
Uit die hoeveelheid tenders wat nou in die howe beland en tersyde gestel word, wil dit voorkom asof baie maatskappye nou rug styfmaak.
Dit is skynbaar al manier om hierdie verrotting van die samelewing te stuit.
Voor die vorige algemene verkiesing het Zuma en hierdie premier asof in tandem beloftes gemaak oor hoe korrupsie uitgeroei gaan word. Die premier is selfs uitgelag toe hy by ‘n Salga-kongres beloof het korrupte en onbekwame burgemeesters gaan die trekpas kry.
Na die verkiesing het dit geblyk dat dit óf vals beloftes was, óf dat daar ‘n groot verskil is tussen wat die vis se kop hier as verkeerd en korrup beskou, en wat in die wêreld as korrup ervaar word. Gou-gou is verklaar dat daar niks mee verkeerd is met die luukse motor wat die nuwe minister van Vervoer by padmakers gekry het nie. Die motor is darem uiteindelik, leedvermakerig, van die hand gewys.
Uiteindelik het Zuma die behoefte gestel dat oor etiek en moraliteit debat gevoer moet word. Dit blyk dat hierdie debat onder meer ten doel moet hê om te besin of dit wat deur sommige gemeenskappe – en die wêreld – as verkeerd beskou word, maar deur ander nie, inderdaad verkeerd is.
Dat daar ‘n ernstige behoefte aan ‘n besinning oor moraliteit nodig is, kan nie betwyfel word nie.
‘n Goeie voorbeeld van die behoefte aan morele standaarde is hoe die Vigsveldtog verloop. Die gratis uitdeel van kondome het aanvanklik deel uitgemaak van die aksie, tot gevind is dat dié praktyk immoraliteit en losbandigheid bevorder, en dus Vigsverspreiding aanhelp. Kort hierna blyk dit, toe dit aan die lig kom dat kondome in die sensus-veldwerkers se toerusting bygevoeg is, dat die kondoombenadering weer voluit geld. Pas het pres. Zuma self weer aangekondig dat miljoene kondome as deel van die veldtog versprei gaan word.
Terwyl almal wat ‘n bietjie kennis het, weet die Vigspandemie kan slegs deur hoë morele waardes aan bande gelê word.
Om immoraliteit te bevorder, het egter ook ander newe-effekte. Pas het die land weer verneem van ‘n eenjarige babadogtertjie wat om haar lewe veg na sy en haar versorger deur inbrekers aangerand is. Die dogtertjie het onder meer skedelbreuk.
Vrae word gevra oor hoe siek ‘n gemeenskap moet wees om sulke barbare voort te bring.
Die land se misdaadstatistieke is reeds ou nuus, en so ook die feit dat gesaghebbende instansies meen die werklike syfers is eintlik hoër. Kommer word oor die hoë vlakke van geweldsmisdaad uitgespreek.
Enkele jare gelede was politieke navorsers in die Vrystaat gewalg toe daar binne enkele weke ‘n vlaag opspraakwekkende verkragtings was. Die jongste slagoffer was drie maande oud, en die oudste 103 jaar oud. Siek.
‘n Vis vrot van sy kop af. As die leierskap nie duidelik die streep trek oor norme nie, het die bevolking nie goeie rolmodelle nie.
