‘n Gemeente meen dus dat die hemelinge oor ‘n teokratiese besluit geween het.
Die begrip van dolerende gemeentes (gemeentes wat in protes of beswaard is) word dikwels deur gemeentes self soos ‘n titel gebruik.
Wanneer die mens die teokrasie toepas is dit dus gebrekkig.
Dit sou moontlik beter wees om twee begrippe te gebruik, naamlik ‘n Godsregering as proses, en teokrasie as stelsel, en hulle te onderskei.
Teokrasie as staatsbestel manifesteer hom op talle maniere. Sekerlik die bekendste hedendaagse teokrasie is dié van die Tibettaanse, waar die Dahlia Lama boonop nou ‘n regering in ballingskap voer na die gebied deur China ingelyf is.
Sedert die val van die sjah van Iran, voer die ajatollas ‘n de facto teokrasie. Tot die Tweede Wêreldoorlog het die Sjinto-Japannese geglo die keiser is ‘n regstreekse afstammeling van ‘n god, min of meer soos die Egiptenare oor die faro’s geglo het.
Die Asteke het “simboliese” oorloë teen ander stamme gevoer om menslike offerandes vir hul godsdiens te bekom. By geleentheid het die geharde Cortez en van sy manne in afgryse vanuit ‘n paleisvenster gesien hoe ‘n piramiede rooi kleur van die menslike offers se bloed. Ook die Inkas het geglo hul aardse heerser is ‘n goddelike afstammeling.
Israel is in die tydperk tussen Josua en koning Saul deur rigters regeer, in wat waarskynlik as ‘n teokrasie bekend sou staan. Trouens, Moses en Josua se leierskap sou ook deel hiervan kon wees. Van die rigters, soos Simson, het nie altyd al te voorbeeldig opgetree nie.
In die tyd toe die pous nog gesag as aardse heerser gehad en “bulle” uitgevaardig het, het die Christendom ook na-aan ‘n teokrasie geword. Talle oorblyfsels van hierdie opvatting is steeds te bemerk.
As invalshoek is die kerk met ‘n boom se stam vergelyk, en ander lewensvorme as takke wat uit die stam groei. Hieronder sou ‘n mens die staat, die gesin, die huwelik en ander tipies tel. In teorie het die pous dus seggenskap oor elke lewensaspek van mense binne die kerk se invloedsfeer gehad. Aardse heersers wat hul gesag teen die pous getoets het, moes boete doen soos met kaal knieë ‘n lang tel trappe uitklim.
In die Middeleeue is die gedagte van teokrasie gevoer na die vlak van die erflike koning – die Here sou dan deur die skep van lewe, bepaal dat Sy keuse as troonopvolger gebore word. Dit het ook ‘n sekere vorm van onaantasbaarheid vir die koning geskep, wat selfs aan onbevraagbaarheid gegrens het.
‘n Wisselvorm word aangetref in die vorm van primitiewe dolosgooierey en die spreek van die Orakel van Delphi. Die Christendom, veral in die Judese aanloop, ken die praktyk van profete wat selfs die konings van God se instruksies voorsien het.
Hoe sou ‘n teokrasie vandag daaruit sien?
In ‘n Protestants-demokratiese omgewing sou die vertrekpunt wees dat die Christen sy Christenskap in alle lewensfere, die kerk en die staat ook, uitleef. Hy is dus nie minder Christen wanneer hy in die kerk sit, in sy huisgesin funksioneer, in sy werkplek, op die skoolbeheerliggaam, en die uitoefen van sy stemreg nie. Voeg hierby ‘n inskrywing in die grondwet dat die grondwet, en selfs die handves van menseregte, God as hoogste gesag erken, en dat sittings van die parlement en kabinet met gebed geopen word, en siedaar, ‘n “teokrasie.” Die Christen se lig, hoe hy Christus uitstraal, moet immers oral skyn, en nie onder die bed weggesteek word nie. (Die Suid-Afrikaanse grondwet voldoen nie aan al hierdie vereistes nie.)
Die Christen sluit God immers nie Sondag na die aanddiens in die kerk toe, en sluit God weer die volgende Sondag oop nie.
Hoekom die vraagteken?
Die demokrasie is ‘n mens-ontwerpte stelsel. Vanuit ‘n Christelike perspektief is dit dus gebrekkig. Dit manifesteer in soveel modelle dat dit onmoontlik is om een te kies as “Christus-vriendelik” of “ideaal vir die teokrasie” te beskryf.
Ten eerste moet ‘n gemeenskap in effek Christelik-homogeen wees. Ideaal moet dit ook kultureel homogeen wees, want die oomblik as ‘n staat heterogene (geloofs-) kenmerke het, sal so ‘n demokratiese teokrasie deur sommiges as onderdrukkend ervaar word wat nie dieselfde morele kodes of geloofsoortuigings aanhang nie.
Dit moet in gedagte gehou word dat die demokrasie soos ons dit ken, primêr uit die liberalisme gebore is, en liberalisme primêr in die humanisme (die mens regeer) staan. Christen-demokrate is byvoorbeeld gewoond daaraan om te hoor “godsdiens moet uit die politiek gehou word.” Moet dit dan uit skole geweer word (soos sommiges dit wil hê, uit die werkplek, uit die gesin, uit die huwelik? Hoekom nie dan sommer uit die kerk (as menslike manifestasie) nie?
Parlementêr kan ‘n mate van buigsaamheid verdiskonteer word, deur te onderskei tussen “godsdiens” en God self. Die parlement bied immers nie die Nagmaal aan nie, maar die Christen-parlementslid is immers nie veronderstel om God buite te laat as hy die parlement se deure ingaan nie. (En sjoe, kyk ‘n mans na baie se optrede op rugbystadions, lyk dit nie of dieselfde toeskouer die volgende dag as lidmaat in die kerk sit nie).
Die werklike toets kom wanneer hy oor wetgewing moet stem wat die teenoorgestelde behels as wat sy kerk leer. Wetgewing soos dié oor aborsies, oor dobbel, pornografie, die wettiging van protitusie en vele meer. Boonop vereis die koukusgebondenheid wat deel van die Suid-Afrikaanse politiek is dat iemand dikwels tussen sy kerk en sy amp as parlementslid ‘n skisofreniese houding moet inneem.
Beteken dit dat die demokrasie nie as basisvorm vir teokrasie kan deug nie?
Bied enige ander hedendaagse regeervorm ‘n beter basis vir teokrasie?
Of moet ‘n nuwe model vir teokrasie gevorm word?
Of, moet die demokrasie hervorm word om as geskikte platform vir teokrasie te dien?
Met ongeveer 80 persent Suid-Afrikaners wat verklaar dat hulle Christene is, is dit in beginsel ‘n onnodige vraag. As daardie 80% kiesers parlementslede instem wat soos goeie Christene die land sal regeer, is dit immers so na-aan ‘n teokrasie as wat kan kom.
Dit is agter as ‘n mens na die lewenshandel en selfs ideologiese uitgangpunte van hierdie 80 % kyk, dat ‘n mens vrae kan begin vra.
Juis in reaksie op die vorige artikel waarna hierbo verwys is, was daar ‘n reeks reaksies wat op geen manier versoenbaar was met die reaksie van ander lesers nie. Die eertydse Admissiestudie van die Afrikaanse susterkerke is selfs as die werk van die groot verleier beskryf. Die ironie, die artikel was hoofsaaklik histories / argeologies, en nie teologies nie.
In alle billikheid, van die lesers se reaksie het ‘n pragtige Christelike gesindheid van liefde (wat sentraal in die Bybel staan) en nie-veroordeling uitgestraal.
Maar as Afrikaanssprekende Christene mekaar so aan die keel gryp, hoe gaan dit lyk as agnostici, ateïste, heidene en ander bykom?
Oor dieselfde tyd kon ‘n mens ‘n prentjie hiervan vorm, met debatte wat onder meer deur die bekendmaking van die 1,9 miljoen jaar oue aapmens-skelet by die Wieg van die Mensdom ontketen is.
Kreasioniste, veral jong aarde kreasioniste, en evolusioniste het mekaar iets allerverskrikliks met die teerkwas bygedam. En hoewel mense wat die amptelike standpunte van die grootste susterkerke aanhang grootliks nie aan die “debatte” deelgeneem het nie, is hulle net so lekker met die teerkwas bygedam en tot nie-Christene “verklaar.” ‘n Oningeligte wat na die “debat” sou kyk sou maklik die afleiding kon maak dat om ‘n Christen te wees, geglo moet word die skepping is 6 000 jaar oud, dat Bybelse argeoloë wat met veel ouer tydperke werk, deel van ‘n yslike bedriegspul is.
En vorm nou ‘n teokrasie via demokrasie met dié spulletjie wat van Christelike liefde en ‘n verbod op veroordeling gestroop is.
Is enige ander model as die demokrasie meer geskik vir teokrasie?
Die antwoord is waarskynlik nee.
Is ‘n teokrasie ‘n saak van onmoontlikheid?
Die staatkundige antwoord is waarskynlik ja. Die teologiese antwoord is dat niks vir God onmoontlik is nie.
Maar dan word van ‘n Godsregering gepraat, en nie ‘n teokrasie nie, en God is immers nie aan menslike regeermodelle gebonde nie.
Beteken dit dat die mens, die Christen, handegevou en fatalisties agteroor moet sit dat God Sy eie ding moet kom doen?
Nee, stellig nie. God ken talente aan mense toe wat soos Godgegewe gawes aangewend moet word. En oor talente miskien net ‘n paar opmerkings. Uit die 1983-vertaling van die Bybel word die indruk in hoofsaak gelaat dat daar meestal na enkele muntstukke verwys word waar die ouers vertaling, en ook vertalings in ander tale na talente verwys. Dit is nie noodwendig verkeerd nie, maar waar na die toewysing van talente verwys word, is dit iets wat in ‘n enorme bedrag geld uitgedruk sou kon word. Deur die loop van Bybelse tye het die gewig van ‘n talent aansienlik verskil, maar dit het gewoonlik na sowat 50 Kg silwer verwys, of te wel een talent gelykstaande aan ongeveer 6 000 werksdae se loon.
So is daar mense wat die talente ontvang het om met staatkundige modelle te kan werk, en iets te ontwerp wat so Christenvriendelik as moontlik sal wees. ‘n Model wat so ver as moontlik sal verhinder dat ons God Sondae in die kerk oop- en toesluit. Uit ‘n teokratiese oogpunt – die Christen moet as Christen vinger trek. Vanuit die Christen-demokratiese en Christen-volkseie-oogpungt: Die kerk kan nie maar ‘n apatiese toeskouer wees oor wat in ander lewensfere aangaan nie. Die kerk as instelling het ‘n profetiese roeping. En die kerk kan as instelling in beginsel nie vrede daarmee hê as sy lidmate Sondae die Here in die kerk toesluit, en die week sekulêr / agnosties leef deur byvoorbeeld partye te steun wat oor beginselsake presies die teenoorgestelde as hul kerke glo nie.
Die Gereformeerde Kerke het byvoorbeeld ‘n sinode-opdrag dat leraars voor ‘n verkiesing moet preek om riglyne vir die uitbring van die stem te verskaf, sonder om ‘n politieke keuse voor te skryf. (Met Admissie-opleiding, en kwalifikasies in die staatsreg en Politieke Wetenskap, kon ek geen kop of stert van hierdie preek – die een wat ek wel gehoor het – uitmaak nie. Boonop was ek self ‘n kandidaat. Ek glo bitter min lidmate het ‘n “lamp vir die voet” gekry. Die beginsel bly egter gesond).
‘n Model, waar menseregte uitgelê sal word, die instink sal wees om die beginsel van natuurlike geregtigheid uit te lê soos die Heilige Gees en die Woord dit in ‘n mens se hart lê. Waar, wanneer oor wetgewing besin word, werklik besin word hoe die Here verwag Sy kinders na daardie wetgewing moet kyk.
‘n Model waar wetgewing so opgestel word waar dit bevorderlik is vir ‘n klimaat van moraliteit. Waar korrupsie nie ‘n norm is nie, maar ‘n onding wat uitgeroei moet word.
Die belangrikste is – waar die regeerders ‘n navolgingswaardige voorbeeld stel, sodat die publiek, veral die jong mense, geïnspireer word om mense se voorbeeld met entoesiasme na te volg omdat hulle die Here deur daardie mense sien.
Die konteks waarbinne die vraag oor teokrasie gevra is, was die volkstaat.
In ‘n sekere opsig sal ‘n volkstaat weens groter homogeniteit ‘n teokrasie makliker uitvoerbaar maak.
Ongelukkig het die godsdiensopvattings van die Afrikaner ontsettend ver uitmekaar gedryf. Enigeen wat objektief hierna kyk, sal weet dat dit wat mense vanuit die Israel Visie-spektrum van ‘n teokrasie sal verwag, baie ver sal verskil van die verwagtinge van mense binne byvoorbeeld die susterkerke, die AGS en die Afrikaanse Baptistekerk.
Terwyl daar raakvlakke is tussen die CVO- en Christian Schools waarbinne baie Afrikaanssprekendes hul kinders plaas, is die verskille ook baie groot.
Op die eenvoudige vlak sou ons sê ‘n staatkundige model sal een wees waar die regeerstyl so sal wees dat dit die Bybelse boodskap ten beste projekteer.
Op die diep filosofiese vlak sou ons sê die hiërargie van wetskringe / lewensfere wat ons via Kuiper en Dooyeweerd van leer, moenie regop staan nie, maar op sy kant lê. Dit beteken wel dat die hoogste orde, die geloofswetskring, op dieselfde vlak as die laer orde wetskringe soos getal en ruimte lê, maar die belangrike is dat nou onderskei word tussen God, wat uit die wetskringe losgemaak word, en die menslike manifestasie daarvan, soos die kerk.
So spreek God enersyds regstreeks tot alke aspek van Sy Skepping, van die mens se geloof, sy kerk, sy kultuur, sy gesondheid, sy regstelsel, sy staat, tot die ruimte en getalle.
En tweedens, suurdeeg die Christen se uitlewing van sy Chistenskap ook horisontaal deur na alle anders aspekte waar hy betrokke is – word die wetskringe en lewensfere in werklikheid die prosesse en filters van ‘n stelselteorie, afgestem op die behaviouralistiese ….onderhewig aan die Wil van God.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.