“Sedert die moord op Eugene Terre’Blanche die aandag wêreldwyd op plaasaanvalle in Suid-Afrika gevestig het, was daar nog aanvalle soos dié by Brits. Die jongste aanval, dié op mnr. Karel Griessel, is groot nuus omdat dit ook in die distrik Ventersdorp plaasgevind het.
“Die verdere hartseer is dat sedert Terre’Blanche vermoor is, nog tussen 700 en ‘n duisend Suid-Afrikaners teen ‘n tempo van meer as 50 per dag vermoor is sonder dat dit veel van ‘n rimpeling veroorsaak het,” sê Botha wat ook die waarnemende voorsitter van die Christen-Demokratiese Alliansie (CDA) is.
“Berigte soos die Vrystaatse gesin van vyf wat in afgryse steier na hulle deur ses mans met grawe en messe gewapen, aangeval is het verskyn. Niemand is in hegtenis geneem nie. Nog ‘n berig handel oor ‘n man wat doodgeslaan is, sy vrou deur ‘n bende verkrag is en hul vyfjarige dogter ernstig aangerand is toe ‘n bende van 15 mans by hul huis ingebreek het. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. ‘n Jong Kaapse man, 23, bloei in die arms van sy pa dood na ‘n vroeg-oggend aanval deur die aanvallers. Hy is met ‘n lang mes in die wang gesteek, en die mes toe afwaarts gedwing. So ver bekend is niemand nog in hegtenis geneem nie. Voorvalle soos hierdie het algemeen geword in Suid-Afrika.
“Die enigste gevolgtrekking waartoe gekom kan word is dat die regering daarin faal om sy burgers te beskerm en doeltreffend met misdadigers af te reken. Suid-Afrika is vinnig besig om ‘n mislukte staat te word.”
