Nou faal die Regterlike Dienstekommissie in sy eie sake. Die een blaps ‘n grondwetlike fout, en die ander iets wat op junior vlak in vergaderingsprosedures geleer word. Selfs Trompie het geweet om sy Boksembende te tel voor vergaderings begin is.
Dit is ongelukkig tekens van ‘n piesangrepubliek.
Pas is ook berig dat verskeie rugbybase parlement toe ontbied is nadat die hoogs omstrede voorsitter van die Portefeuljekomitee vir Sport kommer uitgespreek het oor speeloppervlaktes waarop sommige Fifa-wedstryde binnekort gespeel moet word.
Dit is al talle kere uitgewys dat Fifa se grondwet, soos dié van die IOK en die meeste ander internasionale sportkodes, politieke inmenging in hul sportkodes verbied. Fifa het boonop die reputasie dat dit die daad by die woord voeg, en lande soos Griekeland, Iran en Kenia is al hieroor geskors, met lande soos Brasilië en Nigerië wat net betyds kopgegee het.
Met die reeds veel minder oorsese besoekers wat verwag word, gepaardgaande met slegte publisiteit oor nasionaliseringspraatjies en Julius Malema se sangtalent wat polarisasie tot kookpunt gedryf het, het die land werklik nie nodig om die pot verder te roer nie.
Komphela, soos enige ander landsburger, het die reg om sy kommer uit te spreek. Daar is egter sportstrukture wat hierna kan, en behoort om te sien.
Hy verkies egter om die pad te loop waar die staat onregmatig op die burgerlike sfeer ingryp.
Het die regering nog ‘n reputasie gehad van ordentlike selfbestuur gehad, was dit dalk nog ‘n ander saak, maar te veel sportsoorte het danksy effektiewe regeringsoorname in ‘n soortgelyke moeras as munisipale regering en verskeie provinsiale en staatsdepartemente beland, met groot verleenthede by onder meer die Olimpiese Spele.
