Met die aanvaarding van die elf amptelike tale het skeptici gesê dit was ‘n truuk van die ANC om deur die onwerkbaarheid van soveel amptelike tale uiteindelik net een taal te hê, naamlik Engels. Cachalia en ander, skryf ook in hul akademiese handleiding, Fundamental rights in the new constitution, dat die elf tale waarskynlik uiteindelik tot slegs een amptelike taal sal lei.
Die skrif van hierdie bedoeling moes selfs vir die Roelf Meyers van die tyd aan die muur gewees het toe die ANC aangedring het dat ‘n bepaling in die oorgangsgrondwet geskrap word, naamlik dat ‘n bepaling wat die vermindering van regte wat ‘n amptelike taal by aanvaarding van die grondwet geniet het nie verminder mag word nie.
Net iemand wat nie wil sien nie, sal saamstem dat Afrikaans vanaf 1994 erg onder druk geplaas is, en dat die regering vanuit die staanspoor Afrikaans gemarginaliseer het. By Statistieke SA is personeel selfs verbied om in selfs onderlinge e-poskommunikasie enige ander taal as Engels te gebruik, ‘n verbod wat deur die huidige Statitikus-generaal, ‘n Lesothoburger, laat vaar is.
Dié naweek is onder meer berig dat R200-note wat in omloop gekom het, as vervals geïdentifiseer is, onder meer omdat die vervalsers van ‘n ou voorbeeld gewerk het waarop Afrikaans nog voorkom.
Nog ‘n berig lui dat ‘n lugwaardin van die SAL ‘n passasier gaan verkla het omdat sy hom in ‘n verleentheid voor die passasiers gestel het deur Afrikaans met haar te praat.
‘n Afrikaanse beraad deur swart Afrikaanssprekendes wat onder meer deur Minister Trevor Manuel begewoon is, word as hoop vir Afrikaans aangebied. Einste Manuel, wat volgens sy eie vroeëre aansprake Afrikaans in die tronk by Grootvlei geleer het, bederf die spulletjie deur prof. Hermann Gilliomee en dr. Dan Roodt as negatiewe faktore vir Afrikaans uit te sonder.
Beide hierdie here het hulself as heel in staat om hul eie saak te stel bewys, realiteite wat ongelukkig deur ‘n georkestreerde aksie voortdurend onder verdenking geplaas word. Hierdie aksie steur hulle gewoon nie aan die verduidelikings van die geteikendes – wat ook ander mense insluit – nie, en nog minder aan feite.
‘n Groot deel van die intellektuele debat – as so iets die term debat waardig is – woed anderkant die wyngordyn en is om die Universiteit van Stellenbosch se omstrede T-opsie geweef. In die Wes-Kaap is ongeveer die helfte van die inwoners se huistaal Afrikaans. Die res bestaan uit Engelssprekendes, Xhosasprekendes, Duits-, Portugees- en deesdae Somalisprekendes en vele ander. Tog het dit nog net een beduidende hoër onderwyskundige instelling wat Afrikaans as medium gebruik, en waar Afrikaans deur die openinge wat die T-opsie bied, algaande onder druk kom. By geleentheid het ‘n departementshoof selfs haar nek so ver uitgesteek om Engels tot enigste onderrigtaal in haar departement te verklaar omdat sy, as Engelssprekende, dosente aangestel het wat hoegenaamd nie Afrikaans magtig is nie, en onder meer nie in staat is om Afrikaanse vraestelle na te sien nie.
Die ironie, taalregte word by die naam in die grondwet verskans, en transformasie wat so ten alle koste gedryf word, hoogstens in die grondwet geïmpliseer.
Dan is daar nog mense wat volhou Suid-Afrika het ‘n wonderlike grondwet. Kundiges, soos prof, Koos Malan, wat op juridiese gronde die leemtes uitwys wat dit moeilik maak om die bedoeling van die grondwet toegepas te kry, word as meningsvormer gemarginaliseer.
