Die Maxipers (Naspers se naweekkoerante met Max) is op hul eie maar onaptytlik maar nou met die Cheetahs wat so speel soos hulle speel (of noem mens dit ploeter?) word in die Ore se huishouding tog maar bietjie na die politieke kommentare geloer. Dis gewoonlik minder geneig om soos purgasie te proe en te werk.
Die slegste kasterolie het gekom van Harald Pakendorf.
Probeer die man nou hard om weer soos in die Niekie-dae op RSG se Kommentaar kom?
Kom laat Blik nou sommer met die sambok in die kleinhuisie inspring en die *&^ daaruit moker.
Harald, van alle mense moet jy mos weet dat die “Ja”-stem in die laaste referendum nie so eenvoudig is as ‘n keuse vir of teen ‘n volkstaat nie.
Suid-Afrika het regtig nie ‘n wafferse rekord oor referendums nie. In die meer resente tye (Blikoor se ouderdom-gewys) was daar die referendum waar kiesers moes stem teen onafhanklikheid, of vir ‘n republiek binne die statebond. Die kiesers stem vir ‘n republiek binne die statebond, maar ‘n republiek word buite die statebond uitgeroep.
Toe kon die kiesers stem vir of teen die drie-kamerparlement. En elke keer as gesê word pasop, ‘n ja-stem gaan beteken die goewerment gaan sê die kiesers het vir hervorming gestem. Dan sê die goewerment issie, dit gaan NET oor die driekamerparlement. Onthou oompie nog?
En toe die referendum waarna Harald verwys. Die keuse was vir of teen voortgesette onderhandeling. En enigeen wat al by onderhandelinge betrokke was, weet dit handel oor die kuns om so veel as moontlik van dit op ‘n mens se eie agenda te beding.
En die meeste mense wat toe ja gaan stem het se agenda was duidelik. Ons gaan probeer beding vir die beste behoud moontlik, nie om te kyk wat ons alles kan wegteken sodat die NNP by die ANC kan aansluit nie.
Die punt is, baie ja-stemmers het ja gestem omdat hulle deur hul “eie” mense geverneuk is, nie omdat hulle vir die huidige grondwet gestem het nie. Die ja-stemmers mag dom en naïef gewees het, maar darem nie so dom as wat Harald hulle uitmaak nie. Sies! Praat jy ook Afrikaans met daai mond?
Wat my by die punt bring. Waar is Roelf en Pik nou wat so in hul skik is met hul brouwerk nadat die spulletjie liederlik ontplof het? Omtrent almal was by oom Eugene se begrafnis – ook leiers van nie-rassige partye – oompie Harald, en wat deur die Maxipers geïgnoreer is. Roelf en Pik was totaal obsent – duidelik bang iemand vra hulle na Malema se sangtalent en Zuma se kaperjolle met die Queen – wat alles deur die grondwet wat hulle “beding” het moontlik gemaak is.
Die tweede dosis kasterolie is toe in Jan-Jan se stukkie teenaan die spotprent te lese.
Miskien moet Rapport daarin dink om hierdie soort bydraes deel van die spotprent of in Pollux in te sluit.
En met die moontlike samesmelting tussen die DA en die ID is Jan-Jan se hele analise oor hoe gemaak om die ID deur die DA te laat insluk. Die ID se mense wat sus of so gewoond is, moet nou aanpas om soos die DA te maak.
Agter die wyngordyn word nog bitter weinig verstaan van nie-rassige politiek, al is harde lesse al geleer. Soos Zille se “Stop Zuma-veldtog” wat omtrent al wat swart mens is, maak nie saak hoe ontgogeld met die ANC nie, in die arms van die ANC ingedryf het.
‘n Wit vrou wat ‘n swart man wat ‘n span, mooi op hul plek vroue het, so staan en beledig.
Van die pluspunte oor die DA wat Jan-Jan noem is inderdaad so. Vandag, terwyl ek hier op die Sondag skryf, het die DA reeds 5 mediaverklarings uitgereik voor ‘n Vrystaatse Sondagmiddagslapie verby is. Daar is ‘n werkkultuur.
Dat daar in die ID ‘n mindere ysere werksetiek is, mag vrywel so wees.
Probeer nou ‘n party wat nie oorwegend wit is nie oortuig om gereeld mediaverklarings uit te reik. Veral Sondae as die mense kerk hou, wat ‘n heel dag aanhou of politieke rêllies of groot sokkerwedstryde plaasvind. Sodat die elektronika benut kan word dat koerante en radiostasies in die verste uithoeke net ‘n bietjie elektronies te hoef te knip en plak, en siedaar, ‘n berig. Persklaar.
Nee, die “ander” partye is meer ingestel daarop om “press conferences” soos die ANC te hou, en die media moet agter hulle aanloop, na die twak luister wat die manne wat so in hul eie oë belangrik is, en self die berigte gaan skryf.
En op ‘n manier kry hulle stemme, want hulle hou weer meer “rêllies” regstreeks met die kiesers, want baie kan immers nie regtig lees nie.
En al probeer Zille die straat-dansery nadoen, op TV lyk dit maar verspot as ‘n tante so tekere gaan.
Om nou sommer heel paternalisties (en enige ekspert van tussengroepverhoudinge sal jou vertel om paternalisties in onderhandelinge betrokke te raak is gedoem) is die beste versekering dat die onderhandelinge baie taai gaan raak, veral as die vryery met die UDM ernstig begin raak, om nie van Bothalezi en die IVP te praat nie.
G’n wonder ‘n anderkant-die-wyngordyn-briefskrywer reageer op ‘n brief van Jannie Momberg wat oor Malema se manewales beswaard is, en verseker hom, Jannie, hy sal presies wat hy, Jannie, van die ANC verlang binne die DA kry.
Laat hulle wat blikore het hoor.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.