‘n Voormalige luitenant-kolonel in die kommando, Frederick Rabie, is in in hegtenis geneem ná ‘n onwettige wapenarsenaal in sy huis in Worcester gevind is.
Sowat 10 000 rondes ammunisie, ‘n 9mm-pistool, plofstof en weermagtoerusting is tydens ‘n polisieklopjag op die 62-jarige man se huis gevind.
Rabie is op borgtog vrygelaat en sal na verwagting Maandag in die hof verskyn, berig die Sunday Independent.
Die klopjag was glo deel van ‘n polisieondersoek na die Suidlanders, ‘n verregse organisasie wat na bewering die Wêreldbeker-sokkertoernooi wou saboteer.
Soortgelyke klopjagte is in Pretoria, Mpumalanga en die Wes-Kaap uitgevoer.
Die koerant beweer die ondersoek is gekoppel aan die webwerf www.boycott-2010-world-cup.co.nr.
Die polisie wou nie kommentaar lewer nie.
Independent het egter ‘n “goed geplaasde” bron binne die Suidlanders aangehaal, wat gesê het die wapens sou gebruik word om “vuil truuks” uit te voer in ‘n poging om buitelandse besoekers aan die sokkertoernooi weg te skrik.
