Senegal het hulle teen slawehandel en ander misdade teenoor die mensdom uitgespreek en wil in die toekoms fokus op die nagedagtenis daarvan eerder as om finansiële vergoeding na te streef.
Die eerste van miljoene slawe wat vanaf Afrika na die Amerikas geneem is, was vanaf dié Wes-Afrika land afkomstig wat slawehandel Dinsdag amptelik as ‘n misdaad teen die mensdom verklaar het.
Volgens Cheikh Bamba Niang, woordvoerder vir die minister van justisie, sal dié wetgewing nie enige finansiële vergoeding behels nie.
Verskeie veldtogte om vergoeding vir Afrikane en Afro-Amerikaners as gevolg van slawehandel duik gereeld op en veroorsaak heelwat kontroversie.
“Hierdie wet verseker dat ons slawehandel vir ewig sal onthou. Dit is ‘n regterlike reaksie op ‘n historiese feit. Die impak en nagevolge van slawehandel op Afrika kan nooit vergeet word nie,” het Niang gesê.
