’n Pakkie wat glo gif bevat het, het tot die ontruiming van die poskantoor in Kerkplein in Pretoria aanleiding gegee.
Kliënte en personeel het omstreeks 16:00 Woensdagmiddag die poskantoor ontruim terwyl die brandweerdienste die perseel ondersoek het, het Kedibone Molopyane, die poskantoor se woordvoerder aan Sapa gesê.
“Die pakkie is deur ’n kliënt ontvang wat poskantoor-beamptes oor die verdagte vloeistof binne die pakkie in kennis gestel het.
Die beamptes het die nooddienste en polisie vir sekuriteitsredes oor die verdagte pakkie in kennis gestel.”
Die man het sy pos by sy posbus kom uithaal toe die wit vloeistof daar uitgeloop het. Hy is na die hospitaal geneem en is vir waarneming oornag gehou.
‘n Gedeelte van die gebou is deur ambulanse en brandweerwaens afgesper. Die gebou is sowat ‘n uur later heropen nadat die perseel weer veilig verklaar is.
“Dit was negatief,” het Console Tleane, die woordvoerder van die stad Tshwane gesê.
Die poskantoor sal weer Donderdag vir sake oop wees terwyl toetse op die verdagte vloeistof gedoen sal word om die inhoud daarvan te bepaal.
