Die ANC se omstrede jeugleier, Julius Malema, is die ANC se enigste juweel aangesien dit al is wat die ANC het, en die opposisie nie het nie, en daarom die nydige jaloesie. So het die adjunk-minister van Polisie, Fakile Mbalula, in die debat oor pres. Jacob Zuma se staatsrede gesê.
Mbalula het ook in die bresse getree vir die komende debat binne die ANC oor die nasionalisering van myne, wat deur die ANC se jeugliga op die tafel geplaas is. Volgens Mbalula is die nasionaliseringsbeginsel nie nuut vir die ANC nie. SAPA
Ander nuusstories, kortliks:
Zuma se vriendin kry groot tender onder verdagte omstandighede
Die IVP skree blou moord nadat dit aan die lig gekom het dat ‘n tender vir die voorsiening van verversings aan die KwaZulu-Natalse Wetgewer aan die ma van twee van pres. Jacob Zuma se buite-egtelike kinders toegeken is. Sapa en News 24 berig die tenderbedrag beloop R1,3 miljoen, terwyl IOL die waarde op R3 miljoen stel. Volgens die IVP is die tender toegeken voor die hersieningsperiode van 21 dae verloop het, en dat dit ook nie soos die wet vereis in die staatskoerant geadverteer was nie. Die Wetgewer hou vol dat dit ‘n openbare tenders was en dat meer as 50 voorleggings ontvang is.
Vanjaar 5 biljoen mobiele foongebruikers – VN
Die VN se Internasionale Telekommunikasie-Unie berig dat die wêreld vanjaar sy 5 biljoenste selfoonsubskripsie-intekenaar gaan oplewer. Dit volg na ‘n skerp toename in gebruik van Smart Phones in die ontwikkelde wêreld en mobiele telefone in die ontwikkelende wêreld. Die aantal mobiele breëband-intekenare gaan vanjaar ook die een biljoenkerf verbysteek. AFP
