Leierskap en morele kompas

“Die land het sy morele kompas verloor.” So meen Volksblad vanoggend in sy hoofartikel, met ‘n groot voorbladberig dat Helen Zille die president oor sy jongste buite-egtelike kind looi.

Op Sondagaand se Interface-program op TV het die leier van die Christen-Demokratiese Party en ‘n selfverklaarde agnostikus oor die kwessie van poligamie teenoor mekaar te staan gekom. Gereduseer tot die been was dit standpuntstelling van Christen-Demokrasie teenoor liberalisme.

Die hoofverskil tussen die twee standpunte was dat ‘n land se vryhede binne die raamwerk van ‘n morele kompas moet gemeet moet word, of dat die grondwet aan elkeen die reg waarborg om na sy goeddunke te handel, onderhewig aan ‘n vaag-gedefinieerde “bottom line.” Die voorbeeld wat as onaanvaarbaar gebruik word, is dat een nie ‘n ander oor die kop kan slaan net omdat hy nie hou van wat hy sê nie.

Met die opruiming van New York as vuil, misdaadstad, is binne ‘n liberale grondwet egter ‘n beleid van zero toleransie gevolg. Die redenasie was dat hierdie “bottom line” algaande neig om al hoe hoër te word. In wese kom dit daarop neer dat iemand wat nie vasgevat word oor hy ‘n leë sigaretpakkie by ‘n motorvenster uitgooi, of ‘n stopstraat ignoreer nie, later moeite het om te verstaan hoekom diefstal verkeerd is, en dat ‘n volgende nie sal verstaan hoekom dit so verkeerd is om bedrog te pleeg nie. Die uiteinde is wetteloosheid.

In lande met liberale grondwette word egter steeds van leiers verwag om die voorbeeld te stel. Toe ‘n Belgiese regter haar aan iets naastenby skuldig maak van dit waarvan regter Hlope beskuldig is, is sy nie net geskors nie, maar die premier het verklaar dat die demokrasie self deur haar optrede bedreig is.

‘n Deense minister wie se klererekening agterstallig geraak het is gevra om haar pos te ontruim.

Hier word iemand, oor wie ‘n regter uitspraak gelewer het dat hy in ‘n korrupte verhouding met ‘n veroordeelde bedrieër was, die president. Sy verweer teen ‘n aanklag dat hy ‘n MIV-positiewe vrou verkrag het, was dat dit vrywillige owerspel was.

‘n Minister se munisipale rekening was twee jaar agterstallig, maar erger nog, dié minister is vir munisipale aangeleenthede verantwoordelik.

Die Minister van Staatsveiligheid se eggenote word op dwelmsmokkel-aanklagte gearresteer.

‘n Minister wat die stryd teen korrupsie moet koördineer het erken dat hy self sy amptelike kredietkaart misbruik het.

Die ondervoorsitter van die ANC en voormalige adjunk-president van die land beduie hoog en laag hoe die ANC korrupsie gaan vasvat, maar versuim om te vermeld oor hoe sy haar eerste rybewys in Mpumalanga bekom het.

Pas is berig dat die president pa van ‘n twintigste kind geword het. Die ma van die kind is nie een van sy bestaande of gewese vroue nie, en word ook nie as een van sy toekomstige vroue gelys nie.

Terwyl Europa, wat hoegenaamd nie ‘n toonbeeld van ‘n konserwatiewe lewenswyse is nie, se gemiddelde lewensverwagting nou na ongeveer 80 jaar gestyg het, het dié in Suid-Afrika tot net meer as die helfte daarvan gedaal en die onderpunt is nog, aldus die kenners, lank nie bereik nie. Die gevolg is duisende Vigswesies.

As iemand se morele kompas om ideologiese redes koersloos is, moet harde feite immers praat. Maar die oplossing word ook in die liberale dampkring gesoek – die gratis uitdeel van kondome. Hierdie veldtog is vroeg in sy spore gestuit, juis toe dit geblyk het dat dié program buite-huwelikse seks aanmoedig, en Vigsverspreiding versnel. Nie lank egter nie, is die gesonde verstand deur liberale denke opsy geskuif, en het die kondoomverspreiding weer sy volle verloop geneem.

Terselfdertyd het die owerheid se morele herbewapeningsaksie, ironies gelei deur mnr. Jacob Zuma – toe adjunk-president, in die sand uitgeloop.

Daar is ‘n rede hoekom Christen-demokratiese partye nou in soveel belangrike Europese lande aan bewind is ongeveer 20 – 30 jaar na liberalisme in dié wêrelddeel sy hoogtepunt bereik het. Trouens, ‘n opname verlede jaar het getoon dat jong Nederlanders meer Calvinisties as hul ouers is.

Die uitslag van gisteraand se Interface-stemming, was terloops dat vyf persent van die respondente gemeen het poligamie is reg, en 95 % wat gemeen het dit is verkeerd.

 

укладка модульного паркета видеоданильченко юрій Харків

Maak 'n opvolg-bydrae