Herrie se kerrie: Die swaeltjies

Van Herrie maar kon onthou, het swaeltjies hulle tuisgemaak by huise waarin Herrie grootgeword het. Neste van klei met sulke onderstebo iglo-ingange.

Oulike voëltjies, dié wat vlieënde goggas in transito uit die lug “stofsuig” deur met hul oop bekkies so kos te “kollekteer. Maar alles is nie altyd wel met swaeltjies nie. Daar is verskillende soorte, en nie almal is bereid om sulke volledige neste te bou nie. Die gevolg is dat daar soms ‘n kortstondige geveg uitbreek waar ander soorte die bouers uit hul eie neste kom verjaag.

Herrie onthou hoe Ma Johanna met so ‘n oorname “haar” swaeltjies met ‘n swaaiende besem probeer bystaan het.

Van die swaeltjies kan aggressief word. Soos by oom Nico-hulle op die plaas waar die nes bokant die voordeur was, wat lastig was, want elke keer as mens die huis ingegaan of uitgekom het, het die swaeltjies soos wafferse kamikazevegters op ‘n mens afgeduik.

Maar vir 20 jaar was Herrie se huis swaeltjievry, en moes Herrie maar doen met die hadidas en af en toe ‘n hoep-hoep wat Herrie help wortelvretende goggas in die grasperk in bedwang hou, en meer gereelde lysters en mossies wat verseker dat die Herrie niks vye geoes kry nie, en mev. Herrie se persimmons soos goud bewaar moet word.

Om kamikazevegters te kry, moes Herrie en Pumba die koerant by die keraats op die hoek gaan koop, waar twee spreeus Pumba geteiken het.

En toe begin twee blouswaeltjies dié somer hul nes reg bokant die Herries se voordeur op ‘n buitelig bou. Hulle het baie vinnig gebou, maar toe dit by die tuit kom, was nat grond blykbaar skaars en is dit stukkie vir stukkie met verskillende kleure bygebou. Nou is dit ‘n yslike lang gang met ringe van verskillende kleure.

Groot Herrie het gou opgelet met watter vaart daar by daai ingang ingeduik word. Mens sou dink hulle moes ‘n matras teen die agterkant hê om die vlugspoed te breek.

Soms het een ewe kontant by die bek uitgeloer na die mense wat hier vlak onder sy neus die huis in- en uitgaan. Soms het hulle op die hek voor die oop deur gesit en die menslike aktiwiteite in die huis betrag.

Toe is daar blykbaar gebroei, en toe was daar ‘n rukkie ‘n geraas in die nes. Herrie het maar duim vasgehou die kleintjies kry behoorlik gevlieg as hulle uitgeskop word, want die Herries het ‘n kat wat gereeld rotte, muise en voëls huis toe bring.

En toe op ‘n dag is daar ‘n geskarrel. Herrie wonder nog of hy moet gaan besem haal om indringer-swaeltjies  te help verwilder, maar in ‘n stadium is een in die nes, en drie bekyk die mense in die huis redelik raserig. Kuiergaste of die kleintjies wat omtrent al so groot soos die ouers is?

Gelukkig, met al die jare se blootstelling aan swaeltjies, kan Herrie nou al Swaeltjie verstaan.

So hoor Herrie, rofweg vertaal: “Kinders, daardie is nou mense. Hulle is partykeer ons grootste vyande, en bly daarom veilig weg. En o gaats, daar kom Pumba die hond. Wees baie versigtig. Oeps, en daar is die kat. Van ‘n kat moet julle maar ver weg bly.”

Voorlopig dus. Lyk dit of Herrie tot die winter al moet wag om die nodige herstelwerk aan die dak en die plafon te doen, waar die onlangse reën bietjie skade voor die voordeur gemaak het. Saans bly die buitelig maar af, tensy die lig net vir ‘n rukkie benodig word, want daai hele lig word naderhand vuurwarm.

Alles ter wille van die swaeltjies.

Want Herrie voel bevoorreg dat swaeltjies weer sy huis as tuiste gekies het. Die regte soort swaeltjies.

средство для десеналександр лобановский супермаркет класс

Maak 'n opvolg-bydrae