Die koelbloedige moord op mnr. Kobus Snyman in sy huis in Midrand om ‘n skootrekenaar en selfone te buit maak minister Mthethwa se belofte belaglik om jag te maak op die twee misdadigers wat in ‘n e-TV onderhoud gedreig het om buitelandse besoekers aan die Fifa-toernooi te beroof en vermoor. So sê die leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP) en waarnemende voorsitter van die CDA, ds. Theunis Botha.
“Ons hoor elke dag van nog voorvalle van misdaad waartydens mense vermoor word. Hulle swerf uitdagend in ons strate rond, en soos Snyman se skoonma gesê het, sy kon in die oë van die moordenaar sien dat dit nie sy eerste moord was nie.
“Wanneer sal dit tot die regering deurdring dat sy eerste verpligting teenoor die burgery nie is om gratis water en ligte te voorsien nie, maar om hul te beveilig?
“Die tyd is oorryp dat die doodstraf heringestel word. Dit is die enigste werklike afskrikmiddel teen moord en die enigste paslike straf vir mense wat soos kanker op onskuldiges teer.”
