’n Hofsaak wat volgende week in Nederland begin en die perke van spraak- en meningsuiting deeglik gaan beproef, is ook vir Suid-Afrika van belang.
In hierdie hofsaak word die nuusmaker-parlementslid, Geert Wilders, van “haatsaai” en “groepsbelediging” aangekla, wat in Nederland twee verskillende misdrywe is en vir beide kan ‘n maksimum-vonnis van ‘n jaar gevangenisstraf opgelê word.
In Suid-Afrika sou dit waarskynlik klagtes van haatspraak en kriminele laster tot gevolg gehad het. Die appèlhof in Suid-Afrika het onlangs bevestig dat die klag van kriminele laster nie weens onbruik verval het nie.
Die kruks van die saak is dat spraakvryheid en uitsdrukkingsvryheid nie onbegrens is nie, en afgesien van ‘n rits sivielregtelike moeilikheid, nog vir ‘n man ‘n gesonde klomp strafregtelike moeilikheid op die hals kan haal.
Wilders se vervolging is ietwat ongewoon aangesien die vervolging nie deur die Openbare Ministerie, wat met ons Nasionale Vervolgingsgesag vergelyk kan word, ingestel is nie, maar deur die Amsterdamse Geregshof.
Sy teenspoed spruit uit uitsprake oor Moslems, die Islam en die Koran. Wat veral die rooi vlag vir die hof was, was ‘n opmerking dat die Islam soos Nazisme is, en dat die Koran die Islam se Mein Kampf is omdat dit glo uitdelging voorstaan.
Die verhoor moet nog plaasvind, maar tog het Suid-Afrikaners hierby ‘n belang.
Die belang spruit nie soseer oor die gemeenskaplike Romeins-Hollandse regstelsel nie, maar ‘n bepaling in die Suid-Afrikaanse grondwet dat by die uitleg van Handves van Menseregte, buitelandse regspraak in berekening gebring kan word.
Die vind van die beperkings van regte soos die reg op vryheid van uitdrukking (art 16) is om verskeie redes nodig, soos dat een stel regte van een persoon kan bots met die grondwetlike regte wat ‘n ander het. Terwyl die een dus ‘n reg op uitdrukkingsvryheid het, het ‘n ander die reg op waardigheid (art 10), privaatheid, geloofsvryheid en byvoorbeeld ook waar van toepassing, kinderregte.
Nog ‘n beperkende gronde is beperkings wat wetgewing daarop plaas, hoewel onderhewig aan voorwaardes dat die beperkings nie van so ‘n aard mag wees dat dit die reg heeltemal vernietig nie.
Die kort en die lank is, iemand het nie maar net ‘n vry sê oor ‘n ander nie, en die tipe moeilikheid wat ‘n mens jouself op die hals kan haal wissel van die aard, byvoorbeeld met mondelinge uitsprake iets soos crimen injuria, met iets op skrif (gepubliseer) kriminele laster, of op die sivielregtelike terrein, laster.
Haatspraak dui eerder op die aantasting van ‘n groep se waardigheid, en so is na ‘n groot gesukkel daarin geslaag om die slagspreuk, Kill the Boer, kill the farmer, tot haatspraak te verklaar. Die handves van menseregte se hofies waaronder ‘n mens die riglyne sal soek sluit in taal- en kulturele regte (art 30, saamgelees met art 31), en godsdiens (art 15). In die praktyk sal art 9 (3) waarskynlik, via die verbod op diskriminasie, kategorieë stel wat nie beledig mag word nie, en dit sluit kategorieë in soos ras, geslag, oriëntasie en gestremdheid.
Om in die praktyk te demonstreer hoekom hierdie norme met effense juridiese akrobasie ter sake kom:
Om die regstreekse norme sonder konteks te gebruik, sou iemand byvoorbeeld gekrenk voel as iemand hom uitskel as: “Jou Afrikaner,” of “Jou Christen.”?
Hierteenoor is mens bykans gewaarborg om hewige reaksie te ontlok as iemand toegesnou word: “Jou k***r,” “jou vuil Boer,” “jou moffie” of “jou kruppelgat.”
Wanneer die “bedoelde” kategorieë doelbewus beledig word, deur iets vulgêrs of onwaar by te voeg, kan godsdiensgroepe wél as groep eksepsie neem, soos Moslems se besware by die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kulturele regte. Christengroepe se soortgelyke klagtes oor sake soos die onderstebo uitbeelding van die kruis in ‘n bioskoopbekendstelling is egter nie deur die Kommissie hanteer nie. Volgens ‘n joernalis wat dit ondersoek het, het die Kommissie in ‘n stadium nog geen klag van Christengroepe hanteer nie.
Die uitspraak in die Wilders-saak sal minstens beproefbare riglyne verskaf wat groepe hier kan gebruik om mense voor ‘n soort strafhof te bring vir uitsprake soos dié van Malema na Caster Semanye se terugkeer uit die buiteland.
