Dit het soos ‘n blink plan geklink – ‘n webwerf waar die Franse kon deelneem aan ‘n debat oor hulle nasionale identiteit.
Maar President Nicolas Sarkozy se hoop op ‘n beskaafde uitruil van gedagtes is blykbaar verydel.
Duisende sogenaamde “rassistiese” bydraes, met die algemene tema dat vreemdelinge huis toe moet gaan, is gepos.
“Frankryk het ‘n Afrika-kolonie geword op ‘n manier wat nie nou omgekeer kan word nie,” lees die een, terwyl ‘n ander sê: “Voorheen het Frankryk kolonies gehad, nou is dit self ‘n kolonie.”
Ander lees: “Niemand in Frankryk het gevra om deur vreemdelinge ingeval te word nie,” “Om Frans te wees is om in Frankryk gebore te word uit twee Franse ouers,” en “Immigrante wat hulle leefstyl op ons wil afdwing, moet huis toe gaan.”
Die Franse eerste minister Francois Fillon het die debat verdedig, en ‘n hartstogtelike toespraak gegee oor die onderwerp “wat dit beteken om Frans te wees,” tydens ‘n dinkskrum in Parys.
Hy het ingestaan vir President Nicolas Sarkozy wat onttrek het en skeduleprobleme as die rede aangedui het, toe die debat suur getrek het.
“Om hierdie debat te weier en om die idee dat die Franse mense ‘n unieke identiteit het te stigmatiseer, gaan daartoe lei dat die veld oop gelaat word vir ekstremiste,” het mnr. Fillon gesê.
Hy het Sarkozy se mening dat tradisionele partye, soos die regerende UMP, die onderwerp van patriotiese trots uit die greep worstel van die anti-immigrante Nasionale Front, wat hulleself lankal as die kampvegter van ‘n “ware Frankryk” plooi.
‘n Segsman vir die minister van immigrasie, Eric Besson, sê die openlike rassistiese uitsprake was “onverskoonbaar,” maar ander negatiewe opvattings was alles deel van die demokratiese debat.
Die segsman het bygevoeg: “Twee weke gelede is ons gekritiseer dat ons die mense sensor, en vandag word ons gekritiseer daarvoor dat ons ‘n groot diversiteit van opinies respekteer.”
Maar Yazid Sabeg, die kommissaris van diversiteit en gelykheid, sê hy “verafsku” die terme van die debat wat deur mnr. Besson se webwerf geopen is, en het bygevoeg: “Nasionale identiteit is ‘n gevaarlike debat. ‘n Mens moet die debat die waardigheid en diepte gee wat dit verdien.”
Alle Franse burgers is uitgenooi om aan mnr. Sarkozy se Groot Debat oor nasionale identiteit, wat veronderstel is om tot die einde van Januarie aan te hou, deel te neem.
Rassespanning het in die onlangse jare gedy, met onluste in hoë-immigrasievoorstede, vrese oor Islamitiese terrorisme, pogings om Moslem-sluiers te verban en vrese dat die Galliese identiteit in die globale ekonomie verdwyn.
Frankryk het een van die grootste immigrantebevolkings in Europa, asook die grootste Moslem- bevolking van omtrent vyfmiljoen.
Mnr. Sarkozy sê dit is belangrik vir almal om hulle identiteit te bespreek, want wat dit beteken om Frans te wees “is vergete en soms ontken.”
Die opposisie Sosialiste het betoog dat die nasionale identiteitsdebat ‘n politieke slenter is wat daarop gemik is om ondersteuning van die verregse Nasionale Front af te rokkel voor die streeksverkiesings in Maart.
Intellektuele en filosowe is ook onder dié wat sê dat die debat xenofobie en rassisme aanmoedig.
