‘Slaan dood die verlede!’

Met doodsveragting sluip drie dapper helde op ‘n niksvermoedende junior Metrorail-bestuurder af. 

“Oppas, sy’s gevaarlik!” waarsku die onverskrokke minister van Polisie, Nathi Mthethwa. “Sy het ‘n unievlaggie!”

“Dis buite orde!” roep die heldhaftige nasionale polisiehoof, Bheki Cele, ontsteld van onder sy kenmerkende rampokkerhoed.

In tipiese ANC-tradisie stuur hy ‘n junior in om die gevaarlike werk te doen: “Konfiskeer die vlaggie!” beveel hy Bongani Ntanjana, adjunkhoof van die polisie in KwaZulu-Natal, “maar wees versigtig! Onthou – sy is een en ons is alleen!”

Met hierdie epiese segetog verseker die drie dapperes dat hulle name ‘n ewige ereplek op die ANC se heldemuur in Freedom Park sal kry. Die nageslag sal hulle eer as die drie kloekmoediges wat met leeuemoed daarin kon slaag om ‘n vlaggie by ‘n vrou af te neem.

Natuurlik sal daar pretbederwers wees wat daarop wys dat dit eintlik maar net boelie-agtige diefstal van ‘n vrou se persoonlike eiendom is, want daar is tog geen wet wat iemand verbied om ‘n vlaggie te besit of te vertoon nie.

Inteendeel, die ANC se eie grondwet waarborg kastig mense se reg op vryheid van denke, oortuiging, mening en uitdrukking, en bepaal dat daar nie op mense se private besittings beslag gelê mag word nie.

Maar wat is ‘n grondwet nou vir ‘n magvervulde ANC-minister en ANC-polisiehoof?

Vir die ANC en sy meelopers is dit veel belangriker dat alle tekens dat daar ooit ‘n verlede was, vernietig moet word. As alle herinneringe aan die verlede uitgewis word, is daar immers niks waarteen die hede vergelyk kan word nie. Sonder so ‘n vergelyking, reken hulle, sal hulle nie so totaal versukkeld en onbekwaam vertoon as wat hulle is nie.

Dis hoekom plekke se name verander moet word, hoekom skewe versinsels ware geskiedenis in skole moet vervang, hoekom Afrikaans vernietig moet word, hoekom Boeremonumente afgebreek of met allerlei vreemdhede besoedel moet word.

Slaan dood die verlede! Verwyder die herinnering aan die voorspoed wat almal eens beleef het, dan kom mense dalk nie agter hoe sleg dit nou onder die ANC-onderdrukking gaan nie; dan glo hulle dalk die leuen van die wonderlike nuwe Suid-Afrika.

Die ANC se groot weldoener, FW de Klerk, het die destydse hede vergelyk met ‘n denkbeeldige vreeslike toekoms as die land nie aan die ANC-terroriste as geskenk gegee sou word nie.

En toe sy bloedige, korrupte, verarmde, ellendige nuwe Suid-Afrika-misdaadnes aanbreek, vergelyk hy dit ewe glibberig met ‘n veel erger denkbeeldige toestand wat kwansuis sou geheers het as hy nie die insiglose ja-stemmers tot eerlose oorgawe sou mislei het nie.

Vandag probeer De Klerk se ANC-vriende met hulle pogings om die verlede te vermoor, om glad niks oor te laat waarteen hulle gebrek aan prestasie vergelyk kan word nie.

Volgens die media het die vrou wie se vlaggie gekonfiskeer is gesê sy is jammer. Die enigste ding waaroor sy jammer behoort wees, is omdat sy nog nie ‘n klag van diefstal teen die drie dapperes gelê het nie

Laat ons volk dié vrou daarin soos een man steun, laat ons die ware geskiedenis lewend hou!

справки 086-уОлександр Васильович Фільчаков

Maak 'n opvolg-bydrae