Twee Vrystaatse munisipaliteite is pas onder administrasie geplaas. Dié stappe was lankal nodig en onafwendbaar nadat die lyne tussen verslae van die ouditeur-generaal en ‘n kritiese Skoor in die provinsiale Wetgewer gekruis het.
Die opposisiepartye se kommentaar som egter die krisis, selfs na dié stappe, op, naamlik dat dit nie die enigste twee munisipaliteite is wat so hanteer moes word nie, en dat soortgelyke stappe in die verlede min verskil gemaak het.
Die redes waarom dié stappe min verskil gemaak het, is komplekser. ‘n Voor die hand liggende rede is dat die mense wat gestuur is om sake reg te ruk, gewoon nie veel beter gevaar het as die sukkelaars wat die probleme laat ontstaan het nie.
Dit is ‘n ernstige aanklag, aangesien ‘n groep oud-stadsklerke ‘n vereniging gestig en hul hulp aan die provinsiale regering en munisipaliteite aangebied het. Hoewel niemand kon betwis dat dié vereniging oor ‘n uitsonderlike poel van bewese kundigheid beskik nie, het die vereniging ‘n konstante koue skouer van die provinsiale regering gekry.
Veel eerder is gebruik gemaak van kaders sonder die bewese kundigheid. In enkele gevalle is professionele konsultante gehuur, maar uiteindelik het dit min gedoen om die algemene kreeftegang-koers te stuit.
‘n Basiese probleem bly skynbaar dat die owerheid se persepsie van wat bevredigend is, en dit wat werklik nodig is om ‘n munisipaliteit te laat vlot, baie verskil. ‘n Goeie voorbeeld was toe die Kroonstad-gebaseerde Moqaka-munisipaliteit na harde aanvoorwerk in die Vrystaatse Wetgewer saam met ‘n paar ander ploeteraars onder administrasie geplaas is.
Dit was skaars gedoen, of TV-kykers moes verbaas toekyk hoe die destydse president Thabo Mbeki per helikopter aangevlieg kom en te midde van ‘n duidelike georkestreerde media-aksie die administrasie ophef. ‘n Duidelike bedremmelde Premier Beatrice Marshoff het toegegee dat alles nou weer vlot en dat die opheffing op verdienste is.
Toe nou nie, sou die geskiedenis uitwys. Die Belastingbetalersvereniging voer steeds ‘n verbete stryd om die riool uit die strate te hou en dienslewering op die een of af ander wyse nie heeltemal in duie te laat stort nie.
Die skeptisisme oor of administrasie die toweroplossing bied, is ongelukkig geldig.
Die stelling dat nog munisipaliteite onder administrasie geplaas moet word, ongelukkig ook. Dié week is berig dat rou riool steeds in Welkom se panne loop, nadat die minister maande gelede opdrag gegee het dat dit gestaak moet word. Dié rioolstortings vind plaas terwyl verskeie mense reeds krimineel vervolg word oor dié munisipaliteit se hantering van die rioolsituasie.
Dié situasie is ongelukkig nie net tot die Vrystaat beperk nie. Die premier van Noordwes het byvoorbeeld ‘n voormalige munisipale bestuurder van Mangaung, met sy hoofsetel in Bloemfontein, as administrateur vir een van haar munisipaliteite aangestel. Onder daardie munisipale bestuurder se leiding het Mangaung begin om die een gekwalifiseerde OG-verslag na die ander in te ryg, en staan hy op die oomblik op verskeie kriminele aanklagte tereg.
Die Sol Plaatjie-munisipaliteit van Kimberley het van sy grootste teenspoed met die OG gekry in die tydperk toe ‘n voormalige afgedankte bestuurder van die Ontvanger die finansiële hoof was. Sy is eers weg na nie aan haar eis vir ‘n hoër salaris gehoor gegee is nie.
In die jongste verlede was daar verskeie uitsprake uit ANC-geledere dat die kader-ontplooiingsbeleid problematies is as mense sonder kundigheid in poste ontplooi word wat wél kundigheid verg.
Die geleentheid om daad by die woord te voeg en die situasie reg te stel kom daagliks in oorvloed voor. Die land wag.
