VN sê Afrika-rebelle gebruik dwelmhandel om operasies te finansier

‘n Hooggeplaaste VN-amptenaar het gister alarm gemaak oor “terroriste en anti-regeringsmagte” in Afrika se Sahel-gordel wat toenemend inkomste uit dwelmsmokkelary gebruik om hulle operasies te finansier.

Antonio Maria Costa, hoof van die Verenigde Nasies se kantoor vir Dwelms en Misdaad (VNDM) wat in Wene gebaseer is, het aan die VN se Veiligheidsraad gesê daar is “twee strome van onwettige dwelms – heroïne in Oos-Afrika en kokaïne in Wes-Afrika – wat nou bymekaarkom in die Sahara, wat nuwe smokkelroetes oor Tsjaad, Niger en Mali skep.”

“Soos in die Andes en in Wes-Asië, put Sahel-terroriste en anti-regeringsmagte hulpbronne uit die dwelmhandel om hulle operasies te finansier, toerusting te koop en voetsoldate te betaal,” het hy tydens ‘n debat oor dwelmsmokkelary as ‘n bedreiging vir internasionale vrede en sekuriteit gesê.

Die VNDM-hoof het gewaarsku dat dwelmsmokkelary in die Sahel-streek, wat regoor die noordelike deel van die Afrika-vasteland strek, “nou groter in omvang is, vinniger met aflewerings en hoogs tegnologies” is, soos gestaaf deur die neerstorting van ‘n Boeing-straler, wat gebruik is vir die vervoer van kokaïne van Venezuela na Wes-Afrika, in November in die insypelaargeteisterde noorde van Mali.

“Dit is skrikwekkend dat hierdie nuwe voorbeeld van skakeling tussen dwelms, misdaad en terrorisme bloot per ongeluk ontdek is,” het hy opgemerk.

In die afgelope jare het Wes-Afrika ‘n belangrike deurgangspunt geword vir Suid-Amerikaanse kokaïne wat na Europese markte gesmokkel word.

In September het weermagverteenwoordigers van Algerië, Mali, Mauritanië en Niger – vier lande wat aan die Saharawoestyn grens – ‘n plan uitgewerk om gesamentlik teen terrorisme en oorgrensmisdaad op te tree.

Algerië deel ‘n grens met die drie ander lande en hulle veiligheidsmagte is onder druk weens aanvalle van Islamitiese militantes wat beweer hulle behoort an El-Keida in die Islamitiese Maghreb.

Die Sahel-streek is ook die toneel van smokkelary en roofhandel van alle soorte wat deur die misdaadgroepe geörganiseer word.

Maria Costa het beklemtoon dat geen staat hierdie transnasionale bedreiging op sy eie kan hanteer nie en het gepleit vir die skepping van ‘n “Trans-Sahara Misdaadmoniteringsnetwerk” wat as ‘n vroeë-waarskuwingskema kan optree om sake wat versigtige ondersoek regverdig, te help hersien.

Hy het voorts ‘n donker prentjie geskets van die dwelmbedreiging wat ander dele van Afrika in die gesig staar, insluitende roofhandel, produksie en verbruik.

Hy het opgemerk dat 50 tot 60 ton kokaïne elke jaar oor Wes-Afrika gesmokkel word, hoofsaaklik deur Guinee-Bissau, terwyl sewe laboratoriums onlangs in Guinee ontdek is, wat aandui dat die reeks ook besig is om te verrys as ‘n vervaardiger van sintetiese dwelms en kristalkokaïne.

 

pokie machine gamesтопкарго

Maak 'n opvolg-bydrae