Die aanval op die leier van die Demokratiese Alliansie, Helen Zille, en haar gevolg in die swart woongebiede naby Pretoria, stuur ‘n paar seine uit.
In die heel eerste plek behoort dit die boodskap tuis te bring dat politieke byeenkomste miskien liefs nie op Sondae moet plaasvind nie. Vir sommige mense druis dit in teen hulle Christelike oortuigings en vir ander is Sondae duidelik ‘n dag vir dronk rondlê en moeilikheid soek.
Daar is ook die boodskap dat politici oor die algemeen gewantrou word. Die DA mag miskien ‘n opposisieparty wees, maar in die oë van die massa sit hulle ook in die magtige parlement en al die stadsrade en dra hulle dus ook skuld aan die swak dienslewering in plaaslike owerhede.
Om swak dienslewering te gebruik as ‘n werwingskwessie kan met ander woorde baie gevaarlik wees.
En dan is daar die wit/swart-ding. Dit maak nie werklik saak hoeveel swart gesiggies Helen Zille in haar leiersgroep inwerk nie, die DA word steeds deur die swart stemvolk as ‘n wit party gesien. Hulle sal eerder sonder water en krag bly as om die groot struggle-party te verraai. Hulle skaar hulle agter die groot, sterk man wat die moed het om op die verhoog liedjies soos “Bring my masjiengeweer”, te sing. Dit is dan ook die lied wat Sondag in die strate weerklink het.
Natuurlik dra die frustrasie van die mense met swak omstandighede by tot hulle gewelddadige optrede, maar dit sou nogal interessant wees om te sien wat sou gebeur het as president Jacob Zuma op dieselfde plek en tyd besoek afgelê het. Wat sou die skare se reaksie dan wees?
Ons vermoed hy sou ‘n helde-ontvangs gekry het.
Dit is nie maklik vir enige westers-demokraties-ingestelde persoon om te verstaan hoe Afrika-politiek werk nie. Wat in die weste so logies lyk, maak dikwels in Afrika glad nie sin nie.
Die feit is, as jy die getallespel teen die ANC/SAKP/Cosatu wil speel, moet jy dit in die Afrika-idioom doen. Jy moet gesien word as die sterk redder wat mense bevry van ‘n vyand en ongelukkig vir die DA, is die tyd van die wit sondebok nog nie verby nie. Natuurlik het die party sy swart ondersteuners, maar om die massa te draai, is nie maklik nie. Kyk maar waar het Cope geëindig. Om die waarheid te sê kyk hoe lank het die MDC in Zimbabwe gesukkel om ‘n kritiese massa te bereik sodat hulle iets kon regkry.
Dit is waarom dit sin maak om belange-politiek in Suid-Afrika te bedryf. Dan hoef jy nie te probeer om iets vir almal te wees nie, net maar om te beding vir jou groep. Dan hoef jy ook nie vir bottels en klippe te koes op ‘n Sondagmiddag in Slovopark nie.
