Dis geensins slegs Nigeriërs wat doeltreffend is daarmee om mense om die bos te lei en te verneuk met hulle 419-briewe nie. Die spul Europese en Amerikaanse wetenskaplikes wat so hoog opgee oor klimaatverandering, kan gerus seminare in Lagos gaan hou en die Nigeriese boewe ‘n ding of twee leer van lieg en bedrieg.
Niemand betwis dat die aarde se klimaat konstant aan’t verander is nie. Tydens die Middeleeue was daar byvoorbeeld ‘n tydperk waartydens dit warmer was as wat dit vandag is. Snaaks hoe daar destyds geen motors of fabrieke was in die jaar 900 nC wat CO2 vrygestel het nie, nie waar nie? Die warm tydperk in die Middeleeue is opgevolg deur ‘n mini-ystydperk, wat teen 1816 so erg was dat daar in daardie jaar hongersnood was, omdat die somer eenvoudig nie daardie jaar opgedaag het nie. Hierna het dit weer warmer begin raak.
Dus: die klimaat verander. Maak vrede daarmee. Wat wel totaal en al onseker is, is of menslike koolstofdioksiedvrystellings hiervoor verantwoordelik is. Dinosourusse het nie motors gery nie maar daar was geen ys op die pole in hulle tyd nie. Die aarde was toentertyd veel warmer. Daar het egter ‘n ganse, ingeteelde industrie ontstaan van wetenskaplikes, die media en veral politici wat op die wa gespring het en die drom van klimaatverandering en menslike kweekhuisgasse luidrugtig slaan.
Soos met die meeste dinge in die lewe moet mens die geld volg as jy wil verstaan wat regtig aangaan. Wetenskaplikes is afhanklik van skenkings en toelaes vir hulle navorsing. As hulle sou bevind dat die ganse verneukspul eintlik nie water hou nie, gaan daardie toelae vinnig opdroog. Slegte nuus en doemprofeetstories verkoop eweneens baie meer koerante as ‘n stert-tussen-die-bene bekentenis dat die data nie een kant toe of die ander kant toe op ‘n tendens dui nie. Politici het ‘n handige manier gevind om meer belasting te hef: maak vir baba bang met die kweekhuisgas-gogga.
En, heel voorspelbaar, gaan staan en tuimel die ganse kaartehuis van die afgelope twee dekades se grootste liegspul ineen, ironies genoeg kort voor die groot beraad in Kopenhagen. Kuberkrakers het op eposse afgekom van daai einste wetenskaplikes. Tot die spul verneukers se intense skok, onthul die data die aarde is nie besig om warmer te word nie. Inteendeel: ‘n eerlike analise van die data sal aantoon dit koel sedert 1960 af! Wat doen ‘n selfrespekterende 419-tipe boef onder sulke omstandighede? Hy bekook die data. Hy beswadder die skeptici. Hy lieg. Hy kierang. Ann Coulter skryf hierdie absoluut vernietigende stuk oor hierdie aartsleuenaars wat maak of hulle wetenskap pleeg.
Volgende keer as jy stories lees oor hoe ons motors se uitlaatgasse glo die planeet laat opwarm, en hoe Kaapstad gevolglik gaan verdrink, soek eerder ‘n boek deur die Grimm-broers. Die histeriese liegspul oor aardverwarming agv menslike aktiwiteite en die Grimms se sprokies is ewe feitelik, maar ten minste is laasgenoemde meer vermaaklik.
