Trias politica bly onder druk

Teen die agtergrond dat Suid-Afrika tot gevaarlik na-aan die onderpunt van die VN se sogenaamde piesangreplubliek-indeks beweeg het, kom die nuus dat pres. Jacob Zuma adv. Menzi Simelane as die nuwe direkteur van Openbare Vervolging aangestel het.

Kritiek op Simelane is veral gebou rondom bevindings van die Ginwala-kommissie van ondersoek, en ‘n voortspruitende ondersoek deur die Staatsdienskommissie na die optrede en bekwaamheid van Simelane. In breë trekke word hy deur opposisiepartye daarvan beskuldig dat hy nie die onafhanklikheid van die regbank verstaan nie, en dus by implikasie nie verstaan hoe die demokrasie in ‘n moderne regstaat funksioneer nie.

In eenvoudiger taal gestel – hy word daarvan beskuldig dat ‘n marionet van die regerende party is.

Die ironie is dat hy adv. Vusi Pikoli vervang wat weliswaar as direkteur van Openbare Vervolging so onafhanklik opgetree het dat hy eers die trekpas en toe ‘n vrypas en skikking van meer as R7 miljoen ontvang het, maar as direkteur-generaal van Justisie ‘n duik in aansien op die lyf geloop het.

In daardie geval het ‘n adjunk-direkteur-generaal, M.M. Tshishonga, by Pikoli as direkteur-generaal gekla dat die destydse minister van Justisie, dr. Penuell Maduna onregmatig by die Meesterskantoor inmeng om lonende kontrakte vir ‘n vriend te bekom. Nadat Pikoli versuim het om iets aan die saak te doen, het Tshishoga hom na dr. Essop Pahad, minister in die presidensie gewend. Ook hier het hy ‘n bloutjie geloop. Hy het vervolgens ‘n mediakonferensie belê en met die sak patats vorendag gekom. Tshishonga het hom op die arbeidshof beroep toe teen hom opgetree is, met Maduna as eerste verweerder, en Pikoli as tweede. Tshishonga het die saak gewen omdat Maduna en Pikoli hom geen alternatief gelaat het as om hom op die media te beroep nie.

Dit was Maduna se einde, maar nié Pikoli s’n nie. Politieke gedienstigheid, selfs om ‘n korrupte saak te dien, is blykbaar geen sonde nie, maar toe hy wel onafhanklik optree soos om met die teenkanting van Simelane, toe DG van Justisie, teen Jackie Selebi op te tree, was dit afdankingswaardig.

Selfs al sou slegs die simboliek van Simelane se aanstelling ten hemele skreeu, kan die feit nie weggeredeneer word dat hierdie aanstelling skadelik vir die land en vir pres. Jacob Zuma se internasionale aansien is nie.

Dit staan boonop in die skadu van adv. Lauwrence Mushwana, afgetrede Openbare Beskermer, se herontplooiing as voorsitter van die Menseregtekommissie. Boonop het Mushwana ‘n afskeidsgeskenk van R7 miljoen ontvang toe sy termyn by die Openbare Beskermer afgeloop het, na die Openbare Beskermer op sy wagbeurt minstens twee hofsake – die een oor die Staatsteaterondersoek en die ander oor die Petro SA – Invume –aangeleentheid, verloor het. Veral laasgenoemde het die vraagtekens oor sy politieke onafhanklikheid geplaas. Hy is immers as ANC-LP as Openbare Beskermer ontplooi.

Die ironie is dat die hof gister self ‘n boodskap van onafhanklikheid en juridiese suiwerheid uitgestuur het toe die SAPD aangesê is om binne twee dae uitvoering te gee aan altesaam 15 geïgnoreerde hofbevele teen ‘n sakeman, wat volgens sy eie aansprake hoë konneksies en dus onaantasbaar is. Die hof het klem gelê op die impak wat die SAPD se optrede op die funksionering van die regstaat het.

Dit bly egter ‘n hartseer saak dat die skeiding van magte, soos in die trias politica ‘n demokratiese konvensie geword het, en die onafhanklikheid van die regbank, so diep in die 21ste eeu in Suid-Afrika steeds sukkel om die babasokkies af te skud.

Hoe ver agter Suid-Afrika geraak het blyk uit die skorsing van ‘n Belgiese regter omdat sy glo ‘n sakeman sou bevoordeel het in ‘n saak wat ooreenkomste toon met dele van die Hlope-debakel. Ten spyte daarvan dat dit gou aangespreek is, het die Belgiese premier steeds verklaar dat die insident die demokrasie self bedreig het.

Hierdie premier het pas die eerste president van die Europese Raad geword.

 

справка 082уданильченко юрій броніславович

Maak 'n opvolg-bydrae