Tumi Mokwena, Julius Malema se prokureur, het in sy finale betoog voor die gelykheidshof gesê die gelykheidswet maak daarvoor voorsiening dat ware slagoffers van verkragting beskerm word en bygevoeg dat daar bevind is dat die klaer in die Zumasaak leuens kwytgeraak het.
Mokwena het ook gesê dat die grondwet aan Malema die reg tot vryheid van spraak gee.
Uitspraak in die haatspraaksaak teen Julius Malema, die ANC-jeugligaleier, is in die gelykheidshof in Johannesburg voorbehou.
Landdros Colleen Collis het gesê sy sal op ‘n latere stadium ‘n datum gee waarop uitspraak gelewer sal word.
Die Sonke Gender Justice Network het ’n klag van haatspraak, diskriminasie en teistering teen Malema gelê oor sy kommentaar rakende ’n vrou wat president Jacob Zuma van verkragting aangekla het.
Malema het glo gesê die klaer het ’n “lekker tyd” gehad.
Die Sonke Gender Justice Network eis ’n verskoning en R50 000 skadevergoeding wat aan ’n hawe vir mishandelde vroue uitbetaal sal word.
