Die Amerikaanse president, Barack Obama, het vrae wat deur ‘n bekende Kubaanse blogger ingedien is, beantwoord en gesê hy stel nie daarin belang om met Raul Castro te “praat ter wille van praat nie,” en dat hy nie die eiland sal besoek voordat die kommunistiese regering koers verander het nie.
In ‘n buitengewone geskrewe reaksie op Yoani Sanchez wat internasionaal roem verwerf het omdat sy dit durf waag om haar regering aanlyn te kritiseer, het Obama gesê dit hang van Kuba af of hulle normale verhoudinge met Washington wil hê, en het ook gesê dat ‘n werklike entente van die amper 50-jaar-oue vyandighede “reaksie sal verg van die Kubaanse regering.”
Sy opmerkings het gister op Sanchez se blog, “Generacion Y,” wat soos meeste kritiese webwerwe teenoor die Kubaanse regering geblokkeer is, verskyn.
Sanchez gebruik snydende, dikwels satiriese stukke om ‘n blik op die interne werkinge van die kommunistiese staat te gee, en skryf oor sulke daaglikse ontberinge soos voedseltekorte en spanning wat deur ‘n gebrek aan vryheid van spraak en assosiasie veroorsaak word.
Obama het Sanchez verseker dat die VSA “geen bedoeling het om Kuba binne te val nie,” ‘n Koue-Oorlogkonsep wat invloedryke Kubaanse amptenare steeds benadruk as ‘n moontlikheid.
Obama het sewe vrae van Sanchez beantwoord met meer as ‘n duisend woorde. Sanchez sê hy het in Engels geantwoord maar sy kantoor het ‘n Spaanse vertaling verskaf wat sy ook geplaas het.
Die nuustydskrif, Time Magazine, het Sanchez – wie se woernaal omtrent ‘n miljoen trefslae elke maand kry- as een van die wêreld se 100 mees invloedryke mense aangewys.
