Johannesburg se paaie sal betyds vir die 2010-wêreldbekertoernooi opgeknap wees, het die stad se padagentskap Dinsdag gesê.
“Dit is ons doel dat mense wat hierheen kom ‘n wêreldklas ondervinding sal geniet. Ons eerste prioriteit is om die stad reg te kry vir 2010,” het woordvoerder Thulani Makhubela tydens ‘n mediakonferensie gesê.
Makhubela het inwoners verseker dat dié prioriteit nie dienslewering sal beïnvloed nie.
Die padagentskap het meer as R30 miljoen opsygesit om paaie in die stad vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi op te knap.
Dié geld sal gebruik word om onder andere slaggate, verkeerstekens en sypaadjies reg te maak.
“Ons infrastruktuur is verouderd maar dit sal nie ‘n probleem wees nie,” het hy gesê.
Makhubela het erken dat motoriste en voetgangers in die stad gefrustreerd raak maar het verseker dat paaie verbeter sal word.
Hy sê hy is positief dat Johannesburg se infrastruktuur net so goed sal wees as dié van Duitsland tydens die 2006 Wêreldbeker, en dalk selfs beter.
